Maar ’n studie wat Woensdag bekendgestel en in die mediese vaktydskrif BMJ gepubliseer is, beweer Swede wat baie koeimelk inneem, sterf vroeër, en die vroue kry meer beenbreuke.

Die bevindinge laat dalk vrae ontstaan oor aanbevelings vir melkinname, al is verdere ondersoek nodig, het die skrywers gesê, want die ooreenkoms is dalk net toevallig.

’n Sweedse span het data van 61 000 vroue tussen 39 en 74 20 jaar lank gemonitor, en data van 45 000 mans tussen 45 en 79 is 11 jaar lank gemonitor.

Die vrywilligers het besonderhede gegee oor hul dieet, leefstyl, liggaamsmassa, rookgewoontes, oefengewoontes, opvoedingsvlak en huwelikstatus.

Teen die einde van die studietydperk was 25 500 groeplede oorlede en 22 000 het al ’n beenbreuk opgedoen.

Hoër melkinname het nie gepaardgegaan met ’n laer risiko vir beenbreuke nie, “maar is dalk verwant aan ’n hoër sterftekoers”, is in die studie bevind.

Onder die vroue het 18 uit 100 van dié in die groep wat daagliks drie of meer glase melk gedrink het, in ’n tydperk van 10 jaar gesterf, vergeleke met die gemiddelde vir die groep, onafhanklik van melkinname, 12,6 per 100 mense.

Onder dié wat daagliks ’n glas of minder gedrink het, was die koers 11 per 100, het die medeskrywer Karl Michaelsson van die Universiteit van Uppsala aan AFP gesê.

Die syfers vir ’n heupbreuk van 4,2 uit 100 vroue wat baie melk gedrink het. Die gemiddelde is 3,5 per 100 en 3,1 per 100 vroue wat die minste melk gedrink het.

“Vroue wat daagliks drie of meer glase melk drink, se kans op die dood is 90 persent hoër, hul risiko vir ’n heupbreuk is 60 persent hoër en hul kans op enige beenbreuk is 15 persent hoër as dié wat minder as ’n glas gedrink het,” het Karl gesê.

Vir mans is die verskil in die sterftekoers minder opvallend: 20,7 uit 100 mense wat baie melk drink oor 10 jaar, die gemiddeld is 18,9 uit 100 mense, en 18,2 uit 100 mense wat min melk drink. Daar was geen verskil in die getal beenbreuke nie.

“Die hoër risiko vir sterfte was teenwoordig by alle soorte melk: volroom-, laevet- en vetvrye melk,” het Karl bygevoeg, en het gesê dit begin by ’n daaglikse inname van sowat twee glase melk.

Met laer inname van tussen ’n halwe en een glas per dag, “is daar ’n neiging tot ’n effe kleiner risiko vir heupbreuk” vergeleke met geen inname, maar dit is nie dieselfde geval vir die risiko vir sterfte nie.

Die span het bevind het gefermenteerde melkprodukte, soos kaas of jogurt, is verwant aan ’n laer sterftesyfer en minder beenbreuke, veral by vroue.

Die skrywers bespiegel een rede is omdat melk, en nie kaas nie, hoog is in D-galaktose, ’n soort suiker wat al in studies op diere bewys is dat dit veroudering bespoedig en die leeftyd verkort.

Die navorsers het gesê dit is onmoontlik om enige gevolgtrekkings of aanbevelings oor melkinname te maak tot verdere werk gedoen word.

Die uitslae is dalk nie van toepassing op mense van ander etniese afkoms met verskillende vlakke van laktoseverdraagsaamheid nie, het hulle gesê.

Melk het ook verskillende voedingstofvlakke wat afhang van faktore soos voedselverryking en die koei se dieet.

En die uitslae kan beïnvloed word deur iets genaamd omgekeerde veroorsaking – osteoporose-lyers met ’n hoë risiko vir ’n beenbreuk verhoog hul melkinname, wat dan die blaam dra wanneer hulle ’n been breek.

Mary Schooling van die Stadsuniversiteit van New York se skool vir openbare gesondheid sê “die rol van melk in sterftes moet nou beslis vasgestel word” omdat inname saam met ekonomiese ontwikkeling sal toeneem.

Ander kenners het tekortkominge in die studie aangedui, insluitend dat melkinname selfaangemeld is, wat dikwels ’n fout in dieetnavorsing is.

Die navorsers het ook nie omskryf watter soort liggaamlike aktiwiteit die deelnemers gedoen het nie – of dit gewigdraend en dus beenversterkend is, al dan nie.

Die studie “laat meer vrae ontstaan as wat dit antwoorde verskaf”, sê Catherine Collins, die hoofdieetkundige van die St. George-hospitaal in Londen.