Siek en sat daarvoor dat jou maat nie reageer wanneer hy/sy televisie kyk nie?  Hy/sy hoor jou dalk werklikwaar nie – eerder as dat hy/sy jou ignoreer. Wetenskaplikes by die Londense Universiteitskollege het 13 mense bestudeer om uit te vind in watter mate die feit dat jy verdiep is in ’n taak, jou reaksies raak. Deur aan die deelnemers twee legkaarte – een ingewikkeld, een maklik – te gee om te voltooi, kon die wetenskaplikes bepaal dat, wanneer jy jou in ’n taak verdiep, die reaksies in jou brein verklein word.  Die uitwerking was baie duideliker toe die moeiliker legkaart aan die toetspersone gegee is. "Ons het gevind dat, wanneer vrywilligers besig was om die veeleisende aanskouingstaak uit te voer, hulle nie klanke kon hoor wat hulle normaalweg kon hoor nie," het die Maria Chait, die medeskrywer van die studie, verduidelik.

"Onoplettende doofheid is ’n algemene ondervinding in die alledaagse omgang"

"Die breinskanderings het getoon dat mense nie slegs die klank geïgnoreer of uitgefiltreer het nie, hulle kon dit in die eerste plek werklik nie hoor nie."

Skanderings toon dat gesig en gehoor ’n klein gedeelte van die brein deel, en, wanneer hulle dit met mekaar uitveg, wen die oë.

Alhoewel die verskynsel, wat beskryf word as onoplettende doofheid, voorheen bewys is, is dit die eerste keer dat die wetenskaplikes by die kern van die saak uitkom.

"Oonoplettende doofheid is ’n algemene ondervinding in die alledaagse omgang, en nou weet ons hoekom," het professor Nilli Lavie gesê.

"As jy byvoorbeeld met iemand probeer praat wat in ’n boek, speletjie of televisieprogram verdiep is en nie ’n reaksie kry nie, ignoreer die persoon jou nie noodwendig nie – hy/sy hoor jou eenvoudig nie eens nie.

"Dit kan ook verduidelik hoekom jy nie die aankondiging rakende jou trein of bus se stilhouplek hoor as jy op jou selfoon, boek of koerant konsentreer nie."

Wetenskaplikes vrees ook daar kan groter implikasies wees, soos wanneer snydokters só verdiep is in hul operasies dat hulle nie hoor wanneer die toerusting biep nie.

Die volgende keer wanneer jy dus in hierdie frustrerende situasie beland, gee jou maat tog maar die voordeel van die twyfel.  En, as alle ander dinge misluk – skree op hom/haar!

© Cover Media