’n Vreesaanjaende video wat onlangs uitgereik is, toon hoe maklik iemand jou drankie in ’n kroeg kan dokter

In die ontnugterende video word getoon hoe maklik dit is om die dwelm Rohypnol, ook genoem “roofies”, wat bekend geword het as dié dwelm vir afspraakverkragting, in ’n drankie te gooi.

Rohypnol word ál meer gebruik om die uitwerking van alkohol te verhoog en iemand baie gou dronk te laat voel.

Vroue wat daarmee bedwelm is en wat daarna verkrag is, rapporteer dikwels verlies van hul geheue en/of bewussyn, dus weet hulle nie wat gebeur nie.

Die uitwerking kan 10 minute nadat hulle dit ingekry het, begin en dit duur gewoonlik agt tot 24 uur. ’n Ander dwelmmiddel, GHB, met ’n soortgelyke uitwerking kan ook gebruik word.

Hier volg ’n paar veiligheidsmaatreëls wat getref kan word om te voorkom dat jy dwelms in ’n kroeg inkry:

  • Moet nooit jou drankie onbewaak laat in ’n kroeg of restaurant nie.
  • As iemand wat jy pas ontmoet het of vir wie jy skaars ken jou ’n drankie aanbied, bly by die kroeg terwyl dit bestel en aan jou gegee word.
  • Hou jou drankie in jou hand en moet dit nie op ’n tafel of toonbank neersit voor die glas nie leeg is nie.
  • Hou jou drankie aan die bokant vas. As jy jou drankie in ’n glas kry, hou jou handpalm oor die bokant pleks van langs die kant sodat dit moeiliker is vir enigiemand om iets daarin te gooi sonder dat jy dit agterkom.
  • Kies drankies in ongeopende bottels of blikkies bo drankies in glase.
  • Moenie drink tot jy nie meer op hou hoede is of van jou omgewing bewus kan wees nie, en bly te alle tye by jou volle positiewe.
  • Vertrou jou instink as jy voel iets of iemand is nie reg nie.
  • As jy flou, deurmekaar, naar of buitengewoon dronk voel wanneer jy by ’n restaurant of kroeg is, maak jouself onmiddellik uit die voete of bel ’n vriend of vriendin of ’n ambulans.
  • Let op vir duidelike tekens van inmenging, soos wanneer jou drankie op ’n ander plek is as waar jy dit gelos het, of as die strooitjie verwyder is of as daar een ingesit is, meer of minder vloeistof as wat jy kan onthou, vreemde borrels of ’n vonkel, ’n ander kleur of geur, ens.
  • Oorweeg dit om in groepe of saam met vriende uit te gaan as jy na ’n kroeg toe gaan as jy die mens nie regtig goed ken nie. Hou in elk geval ’n ogie oor mekaar.

Bron: First for Woman