Aanvullings met vitamien D kan help om die simptome van IBS te verlig, toon navorsing deur dr. Bernard Corfe van die Universiteit van Sheffield in Engeland.

Die simptome is krampe, moegheid, angs en slapeloosheid wat hierdie vitamien verlig. Die maagpyn kan krampagtig wees, of brandend van aard, soms skerp steekpyne, of stadige krampe wat erger en dan weer beter word, soms ’n dowwe aanhoudende pyn.

Dit kan gepaardgaan met ’n verskeidenheid ander simptome soos diarree, hardlywigheid (of wisselende diarree en hardlywigheid), ’n gevoel van opgeblaasheid of buikopsetting, winderigheid en dispepsie (gevoel van slegte spysvertering). Dit bly soms maande lank weg en begin dan weer.

Deur jou dieet met vitamien D aan te vul of meer tyd in die sonlig deur te bring, wat hierdie soort vitamien deur jou are laat bruis, kan jou derms verligting vind.

Gevalle neem wêreldwyd toe, veral onder kinders, en beïnvloed mense nie net fisiek nie, maar ook emosioneel en finansieel, vertel Vanessa Ascencao, ’n Suid-Afrikaanse gesondheidskenner.

Vitamien D werk, omdat dit die immuunstelsel versterk, voeg sy by. Navorsing deur die Universiteit van Cardiff het bevind vitamien D-sproei is doeltreffender as pille. Hierdie sproei is nou in Suid-Afrika beskikbaar by gesondheidswinkels en apteke.

Bronne: yourwebdoc.com, dokfrancois.co.za