Bang jy sal jou griep versprei? Volgens onlangse bevindings word tuisbly en televisie kyk aan die bekamping van uitbrake gekoppel.

Dit is nou wel goed om griepinspuitings en medisyne te gebruik om die simptome aan te pak en hulle help ook om sekere soorte griep vas te vat, maar, om die verspreiding van griep te stuit, is dit beter om interaksie met ander mense te vermy.

’n Eksperiment, uitgevoer deur die Universiteite van Kalifornië, Arizona, Georgia en die Yale-Universiteit, het tot die slotsom gekom dat nie-farmaseutiese maatreëls, soos om gesonde mense te vermy, net so doeltreffend is soos ander voorkomende middels, byvoorbeeld die griepinspuiting.

Navorsers glo ook dat maatreëls, soos om skole te sluit, openbare byeenkomste te kanselleer en selfs om publieke bymekaarkomplekke, bv. rolprentteaters, te sluit, relevante stappe sal wees om te keer dat griep oorneem. Toe varkgriep in 2009 in Mexiko uitgebreek het, het die regering soortgelyke stappe geneem. Dit het aanleiding gegee tot hierdie gevolgtrekkings. Mense wat destyds tuisgebly en televisie gekyk het, se gedragspatrone is gemonitor.

'Mense wat tuisgebly het, [het] minder interaksie met ander mense gehad het en die virus het dus stadiger versprei.'

Die ekonomis Michael Springborn, die hoofnavorser in hierdie studie, het bevind dat die mense wat tuisgebly het, minder interaksie met ander mense gehad het en die virus het dus stadiger versprei. Dit is egter nie heeltemal só eenvoudig nie.

“Ons het bevind dat die gedragsrespons op die uitbraak aanvanklik sterk was, maar dit het gouer afgeneem as wat verwag is,” het hy gesê.

“Hierdie beweging word beskou as ’n terugsprong-uitwerking. Professor Springborn het bevind dat mense uitgegaan het nadat hulle lank binnenshuis gebly het, maar hy toon aan dat die siekes nie noodwendig altyd ander mense vermy nie.

“Dit dui daarop dat pogings, byvoorbeeld sosiale afsondering, om die verspreiding van siekte te temper, ’n beperkte tydsduur sal hê voordat opgekropte behoeftes vir buitenshuise bedrywighede voorrang begin geniet,” het hy bygevoeg.

“Die uitbraak van die varkgriep wat die stad Mexiko in April 2009 getref het, kon erger gewees het, maar die mense se gedragsrespons (deur mekaar te vermy) het verspreiding van die virus verlaag.”

Ander aspekte, soos rykdom en ouderdom, is ook in ag geneem. Mense met kinders en dié met geld was meer geneig om tuis te bly, terwyl die armer persoon meer druk ervaar het om uit te gaan om te werk ten einde geld te verdien.

Mense moet oor die algemeen ook eenvoudige maatreëls tref, soos om hul hande deeglik te was.

Dit word sterk aanbeveel dat jy by die huis bly totdat die virus heeltemal uit jou gestel is, aangesien die risiko om ander mense aan te steek aansienlik vergroot as jy te gou uitgaan.

Hierdie studie is in die tydskrif BMC Infectious Diseases gepubliseer.

© Cover Media