Dit kan egter te veel vir jou raak as jy elke dag vroeg opstaan, in die verkeer sit en tot laatnag werk. 

Van 1 tot 5 Junie is dit Korporatiewe Welstandsweek. Jou welstand hoef egter nie tot een week beperk te wees nie. 

Werkgewers moet ’n gesonde omgewing vir die werknemers skep, sê die Self-Medication Manufacturers Association of South Africa (Smasa). Vars lug en stilte is onder meer volgens internasionale gesondheid-en veiligheidsleiers baie belangrik.

Regverdigheid, eerlikheid en wedersydse respek in ’n werkomgewing dra ook by tot geestesgesondheid. 

Emosionele steun moet verder ’n kernaspek van ’n gesonde werkplek wees, sê Smasa.

’n Aanpasbare werkomgewing, waar ’n ruimte vir persoonlike groei geskep word, is ook van belang, het Mail & Guardian berig.

Werknemers moet ook na hulself omsien; jy mag jouself byvoorbeeld ná 'n moeilike dag op die skouer klop. Want as jy nie ’n gesonde balans handhaaf nie, kan dit jou en jou werk negatief beïnvloed.  

’n Gebalanseerde dieet en die endorfiene wat deur oefening uitgeskei word, sal jou goed laat voel. Onthou om jouself ook te bederf met jou gunstelingsepie en -lekkerny.

Moet ook nie stressimptome ignoreer nie. Jy moet jou gevoelens gereeld evalueer en van enige negatiwiteit ontslae raak. 

Op so ’n manier kan jy die beste “jy” in die werkplek wees en jou beste lewer.