E

Vandeesweek (21 – 27 September) is Nasionale Ooggesondheidsweek, ’n tyd om na te dink oor hoe jy jou oë behandel en of daar goed is wat jy kan verbeter. Ons gee jou ’n paar wenke om jou oë in ’n goeie toestand te hou.

Dieet

’n Gesonde dieet is belangrik vir jou hele liggaam, maar sekere kossoorte kan die gesondheid van jou oë verbeter. Goeie vette beskerm jou teen makulêre degenerasie, ’n pynlose toestand wat tot die verlies van sentrale visie lei. As jy jou daarteen wil beskerm, dink daaraan om meer avokado’s, olyfolie, klapperolie, asook neute en sade, by jou dieet in te sluit.

Werk

Talle hedendaagse betrekkings vereis dat ’n mens na die rekenaarskerm staar. Hoewel tegnologie ons lewe op baie gebiede vergemaklik, kan dit ons oë negatief beïnvloed. Jou oë het rus nodig – volg die 20-20-20-reël. Gee jou oë elke 20 minute ’n ruskans deur 20 sekondes lank 20 voet (6 m) ver weg te kyk.

Droë oë

Droë-oog-sindroom is ’n neweproduk van ’n dieet wat laag is in goeie vette en ook as jy ure lank na ’n skerm staar. Jou kykers voel grinterig en moeg en jy kan moeite hê om jou oë by die werk oop te hou. Omega-3 kan van nut wees in hierdie geval, dus moet jy dit oorweeg om ’n aanvulling soos NHP Omega 3 Support te neem. Die steun van olie wat van ultra-diepseevisse verkry word, sal help om die kwessie te takel.

Hou op rook

Teer en nikotien het op velerlei maniere newe-effekte op die liggaam, maar selfs jou oë ly as jy rook. Trouens, rokers se kans om blind te word as hulle oud is, is vier keer hoër as dié van nie-rokers. Dit kan makulêre degenerasie, katarakte en skade aan die optiese senuwee veroorsaak.

Sonskade

UV-strale veroorsaak nie net plooie en kanker nie, maar kan ook die oë benadeel. Sonskade kan ook lei tot makulêre degenerasie, waarteen ’n sonbril jou in skerp sonlig kan beskerm. Wees op die uitkyk vir handelsmerke wat UV 400 aandui, aangesien dit alle UVA- en UVB-strale blokkeer.

© Cover Media