Onlangse navorsing gee besonderhede van die voordele wat honde-eienaars geniet.

Kenners het bevind die ouer garde met honde as troeteldiere gee meer treë per dag. Onlangse navorsing dui daarop dat honde-eienaars 2 760 meer treë per dag gee – dit beteken sowat 23 ekstra minute van oefening – vergeleke met mense sonder troeteldiere.

’n Span van die Universiteit van Oos-Anglië (UOA) en die Sentrum vir die Navorsing van Dieet en Aktiwiteit by die Universiteit van Cambridge het data ontleed van ’n studie waaraan 3 123 mense deelgeneem het, die European Prospective Investigation into Cancer and Nutrition. Deelnemers was tussen 49 en 91 jaar oud, en byna 20 persent het ’n brak as troeteldier gehad. Elkeen het ’n versnellingsmeter gekry en hulle moes dit sewe dae lank dra.

Die data het getoon mense sonder honde sit daagliks gemiddeld 30 minute langer as hul eweknieë met honde. Honde-eienaars was oor die algemeen meer aktief, selfs as die weer goor was. Trouens, die bevindings dui aan dat honde-eienaars op onweersdae meer aktief was as hondlose mense op mooiweersdae.

“Ons was verbaas om te sien dat honde-eienaars op die koudste, natste en donkerste dae oor die algemeen fisiek meer aktief was en minder gesit het as mense sonder honde op lang, sonnige en warm somersdae,” het Andy Jones, die projekleier en professor aan die UOA, gesê. Hy meen die feit dat die troeteldier se behoeftes vooropgestel word, speel hier ’n rol."

“Ingrypings ten opsigte van liggaamlike aktiwiteit probeer gewoonlik om mense te help om aktief te wees deur die voordele daarvan vir hulself te beklemtoon, maar om met ’n hond te gaan stap, word ook deur die behoefte van die dier gedryf. As ’n mens deur iets anders as sy eie behoeftes gemotiveer word, kan dit die motief heelwat versterk en ons moet in die toekoms maniere vind om dié meganisme in te span by die ontwerp van toekomstige oefening-ingrypings."

Die resultate is in die Journal of Epidemiology and Community Health gepubliseer.

Die navorsers hoop hul bevindings sal die ouer geslag aanmoedig om aktief te bly, aangesien statistieke toon dat ouer Britte minder as die aanbevole 150 minute matige liggaamsaktiwiteite per week doen.