Dit is ’n towerformule wat derduisende mense wil hê: En wyn is een van die moeilikste drankies in dié opsig.

Anders as bier, word dit nie in blikkies of botteltjies verpak sodat jy maklik kan tred hou nie. Terwyl ’n blikkie ’n blikkie bly, kan ’n glas wyn baie wissel, veral as jy dit self skink.

In nuwe navorsing van die Staatsuniversiteit van Iowa het navorsers bevind daar is sekere faktore wat kan maak dat drinkers ’n gevaarlike groot glas skink. Eintlik kan die soort glas en hoe jy skink, ook ’n uitwerking hê.

Die studie het gebruik gemaak van 73 studente-vrywilligers wat almal oud genoeg is om te mag drink. By toetsstasies is hulle gevra om self wyn te skink; daar was wit- en rooiwyn.

Die soort glas en die soort wyn het gewissel: Soms was die glas ekstra wyd en ander kere was dit standaardgrootte of groot. Studente moes ook óf die glas vashou terwyl hulle skink óf skink terwyl dit op ’n tafel staan.

Met wye glase het deelnemers 11,9 persent meer wyn geskink as met standaardglase. Dié wat die glas vasgehou het, het 12,2 persent meer geskink as dié wat dit op die tafel laat staan het.

Vreemd genoeg het deelnemers met rooiwyn 9,2 persent minder geskink as dié met witwyn, ongeag die glas se grootte. Die navorsers glo dit is omdat rooi se kleurkontras groter is; daarom laat dit die glas voller lyk.

In die algemeen glo die navorsers die halfglas-reël kan wyndrinkers red: Skink die glas telkens net halfvol.

Natuurlik beteken dit nie jy kan twee keer soveel as gewoonlik drink nie; dit weet ons sonder navorsing! Maar oorweeg die reël wanneer jy weer ’n bottel wyn saam met vriende drink; dalk skrik jy die volgende oggend sonder ’n hoofpyn wakker.

© Cover Media