Paul Williams, ’n wetenskaplike by die Lawrence Berkeley nasionale laboratorium in Amerika, wou uitvind hoe voordelig oefening vir die hart is. Die verslag is in Mayo Clinic Proceedings gepubliseer.

Data is gebruik van mense wat hartaanvalle oorleef en daarna oefening gekry het. Die oogmerk was om met die twee studies uit te vind watter rol uiteenlopende oefeninge gespeel het in sterftes weens hartsiektes.

Gemeet aan hul resultate blyk dit intense oefening doen in hierdie geval meer skade as goed. Diegene wat vantevore ’n hartaanval gehad het en ses uur per week hard geoefen of meer as 48 km gehardloop het, het hul risiko vir dood weens hartprobleme verdubbel. “Ek het verwag daar sou ’n punt wees waar dit sou afneem, maar ek het nie verwag om ’n toename in sterftes te sien nie,” sê Paul.

Matige oefening het egter ’n positiewe impak gehad. Mense wat meer gedoen het as die aanbevole minimum hoeveelheid oefening, maar nie soveel soos die uiters aktiewe groep nie, het hul kanse om weens hartverwante oorsake te sterf met 63 persent verminder, teenoor diegene wat aan baie min fisieke aktiwiteite deelgeneem het. “Daar is aansienlike voordele aan ’n aktiewe leefstyl verbonde, maar tot op ’n sekere punt,” sê Paul.

Die data geld tans net vir mense wat reeds ’n hartkwaal gehad het, maar Paul werk aan navorsing vir die algehele bevolking. Dit beteken oefen kan “in dosisse voorgeskryf” word om siektes te verhoed wat met ’n onaktiewe leefstyl verbind word.

Intussen is dit sy raad aan mense wat hartaanvalle oorleef het: “Meer oefening is beter – tot op ’n punt.”

© Cover Media