Vitamien C, oftewel L-askorbiensuur, gee alles van ons immuunstelsel tot ons vel ’n hupstoot; daarom is dit ’n onontbeerlike voedingstof.

Voordele vir die liggaam

Eerstens help vitamien C selle beskerm en gesond hou. Dit help ook bindweefsel gesond hou wat ander weefsels en organe opbou en steun.

Die vitamien help ook met die genesing van wonde, dit beskerm die immuunstelsel teen tekorte en dit beskerm die liggaam teen voorgeboortelike gesondheidsprobleme en oogsiektes.

Meer onlangs is ontdek die hart vind baat by die inname van vitamien C. ’n Daaglikse dosis kan net so goed soos stap wees vir jou hart.

Skoonheidsvoordele

Vitamien C is ’n kragtige antioksidant. Dit bevorder fermheid en elastisiteit en verhelder die vel.

Een van die beste eienskappe van dié vitamien is sy vermoë om die uitwerking van vrye radikale, wat in onder meer besoedeling voorkom en die vel dof en sakkerig laat lyk, teen te werk.

Dit steun ook die vervaardiging van kollageen, wat die vel jeugdig en plomp laat lyk.

Bronne

Nie net sitrusvrugte bevat baie vitamien C nie. Vir ’n werklik kragtige mengsel kan jy aarbeie, brame en kiwivrugte saam met lemoene en pomelo’s eet.

Wat groente betref, is soetrissies boaan die lys, met donker blaargroente, broccoli en tamatie kort op hul hakke.

Volwassenes het 40 mg vitamien C per dag nodig. Aangesien dit nie in die liggaam opgegaar kan word nie, moet ’n mens dit gereeld inkry.

As jy met maaltye baie groente eet en aan vrugte smul wanneer jy lus is vir iets soets, sal jy jou aanbevole daaglikse inname maklik bereik.

© Cover Media