Vandag is dit nie ongehoord om middagete oor te slaan ten einde met die werk voort te gaan of om bedags oortyd te werk om te help om ’n swaar lading werk die hoof te bied nie. Dit lei tot uitgeputte werkers.

Luidens die jongste navorsing deur ’n span van die Lehigh-universiteit in Pennsilvanië is die kontrolering van e-pos buite werkure een van die grootste redes waarom getalle van uitgeputte werkers die hoogte inskiet. Hulle beweer die kontrolering van kantoor-e-pos lei tot skade aan die gesinslewe.

Die span het ’n studiegroep van 297 volwasse werkers bestudeer en “organisatoriese verwagting” nagevors gedurende die ure wat hulle nie op kantoor was nie. In die studie is bevind die kontrolering van e-pos buite kantoortyd het gelei tot ’n verlaagde balans tussen werk en gesin en dat dit die oorsaak was van dieselfde soort stresvlakke as dié van ’n swaar werklas.

“Organisatoriese verwagtings kan werknemerhulpbronne wegsteel, selfs wanneer daar nie werklik tyd betrokke is nie, want werkers is nooit werklik van hul werk geskei nie,” het die navorsers geskryf.

Die span, wat ook vergesel was van deskundiges van die Virginia Tegniese Kollege en die Staatsuniversiteit in Colorado, voeg by indien hulle permanent op bystand is, werkers hulle nie van die werk kan losmaak nie en dit tot uitputting lei.

Selfs al kontroleer hulle nie e-posse nie, reken die navorsers die werknemers kan aan “antisiperingstres” ly, aangesien hulle bewus is daarvan dat hulle enige tyd gekontak kan word.

Hierdie nuwe studie kom drie maande nadat Frankryk werk-e-posse oor naweke verbied het. Onder die nuwe arbeidshervormings help hierdie Europese land sy inwoners om oor die naweek af te skakel van die kantoor indien hulle aan maatskappye met 50 of meer werkers verbonde is.

© Cover Media