Die “belfie” het verlede jaar sy opwagting gemaak. Dit is te danke aan Kim Kardashian en haar imposante kurwes.

Enigiemand wat dit reggekry het om weg te skram van die verskynsel, neem kennis: ’n Belfie is ’n selfie wat die eienaar se sitvlak vertoon. Ons weet almal dat hierdie soort foto’s die meeste mans rasend maak, maar daar kan nou ’n logiese rede wees waarom hulle so aangetrokke is tot ’n groot sitvlak.

Volgens onlangse navorsing is dit in werklikheid die ruggraat se kurwe wat die mans so aantrek. In jagter-versamelaar-gemeenskappe dui hierdie vorm daarop dat dié vrou ’n beter versamelaar sal wees as die een wie se ruggraat meer reguit is.

Dr. David Lewis, ’n sielkundige aan die Bilkent-universiteit in Turkye, het gesê: “(Die kurwe) sou die voormoeders tydens swangerskap in staat gestel het om die middelpunt van hul gewig terug te skuif oor hul heupe, aangesien die middelpunt van die gewig tydens swangerskap opmerlik vorentoe verskuif.” “Hierdie voordeel is van die uiterste belang. As vroue dit nie kon doen nie, sou hulle ’n drastiese verhoging in wringkrag (druk) op die heupe ervaar het en dan sou hul spiere gouer moeg geraak en meer aan beserings blootgestel gewees het.

Volgens onlangse navorsing is dit in werklikheid die ruggraat se kurwe wat die mans so aantrek.

“Gevolglik sou die voormoeders met hierdie rugkurwe vir langer tye tydens swangerskap kos bymekaar kon maak. Hulle sou boonop herhaaldelik swanger kon raak, met ’n verlaagde risiko vir rugbeserings.”

In die studie word beweer hoewel ekstra gewig in die sitvlak sal suggereer dat die ruggraat ’n groter kurwe het, is dit nie regtig die sitvlak wat so aantreklik is vir die mans nie.

Volgens die navorsers is ’n hoek van 45 grade perfek, aangesien dit beweging aanhelp, maar dit is nie so groot dat dit rugpyn kan veroorsaak nie.

Sielkundiges het aan 300 mans silhoeëtte van vroue met verskillende buigingshoeke van die ruggraat gewys, en die deelnemers moes toe die aantrekkingskrag van elke silhoeët evalueer. Dit is hoe hulle tot die bogenoemde slotsom gekom het wat in die tydskrif Evolution and Human Behaviour gepubliseer is.

Die resultate het getoon dat mans aansienlik meer aangetrokke was tot vroue wie se ruggraatkurwe 45,5 grade was. Sitvlakke het egter nie juis aftrek gekry nie.

Dr. Lewis het verduidelik: “Mans kan hul aandag op die sitvlak vestig en so inligting kry oor vroue se ruggraat, selfs al is hulle salig onbewus van wat in hul verstand aangaan.”

“Anders gestel: Mans kan voorkeur gee aan die kurwe van die ruggraat, sowel as die grootte van die sitvlak.

“Daar sal nog heelwat navorsing gedoen moet word om laasgenoemde stelling beter te kan verstaan.”

© Cover Media