Ons is al gewoond aan allerhande lawwe kitsdiëte uit Hollywood. Maar het jy al van die pers-dieet gehoor?

Dis net so eenvoudig soos wat dit klink – mense wat dié eetplan volg, lê net weg aan pers kossoorte. En as jy dalk ’n bietjie meer oorreding benodig: Dis die einste dieet waarop Mariah Carey gewig afgeskud het ná die geboorte van haar tweeling, Monroe en Moroccan. Sy het drie dae van die week ’n normale dieet vir pers kosse verruil.

Jy dink dalk nou hoekom juis pers kosse, of hoe? Pers kos bevat die kragtige anti-oksidant antosianien. Dit voorkom selskade, verlaag die risiko vir kanker en kan selfs hartsiektes help afweer.

Maar los maar die pers Skittles-lekkertjies – ons praat nie van sulke soorte pers kos nie! Die fokus met die dieet is op pers vrugte en groente – alles van ligpers tot ’n dieper skakering, soos eiervrug, pruime, druiwe, pers wortels en rooi kool. Bessies is ook op die spyskaart: Braambessies en swartbessies is lekker en voedsaam. Jy kan die reëls buig en pienk en rooi skakerings byvoeg en na hartelus weglê aan frambose, aarbeie, kersies en pienk pomelo. En jou bederfie vir al die harde werk? Rooiwyn word toegelaat, mits jy “matigheid voor oë hou”.

En vir dié wat wonder of die dieet gesond is, kan daar aangevoer word dat dit nooit ’n slegte idee is om meer pers kossoorte by jou dieet in te sluit nie. Bloubessies verskaf energie en help cholesterolvlakke en bloeddruk verlaag. Maar nes met enige dieet is dit nooit ’n wyse besluit om net op een voedingsbron te steun nie. Pleks van ander kosse uitskakel, kan jy dus net meer pers kosse by jou dieet insluit. ’n Goeie begin is om jou toebroodjie vir middagete vir ’n slaai met rooikool en pers wortels te verruil, en jou koekies en ander soet eetgoed met pers bessies te vervang. Mik om elke dag minstens twee pers kossoorte te eet, dan is jy op die regte spoor.

© Cover Media