Die afgelope paar jaar beklemtoon baie advertensieveldtogte ’n dieet met volop olyfolie kan ons gesondheid bevoordeel namate ons ouer word.

Nuwe navorsing beaam dit – ondersoeke toon ’n dieet vol olyfolie kan die simptome help omkeer wat tot hartsiektes kan lei.

Navorsers in Spanje het amper 5 800 mans en vroue van 55 tot 80 wat die gevaar geloop het om hartsiektes te ontwikkel amper vyf jaar lank bestudeer. Die deelnemers is in drie groepe verdeel en elke groep het ’n ander dieet gevolg.

Die eerste groep het ’n Mediterreense dieet gevolg wat met ekstra-suiwer olyfolie aangevul is, die tweede ’n Mediterreense dieet met ekstra neute en die derde ’n laevetdieet.

Die uitslae het getoon die vetsug en bloedsuikervlakke van die twee groepe wat ’n Mediterreense dieet gevolg het, het oor die navorsingstydperk afgeneem.

Vetsug en bloedsuikervlakke is albei simptome van metaboliese sindroom. Dit raak ’n kwart van die wêreld se volwasse bevolking en is ’n kombinasie van hoë bloeddruk, diabetes en vetsug. Dit verhoog die pasiënte se risiko vir hartsiektes en beroerte.

Die uitslae is besonder betekenisvol as ’n mens in ag neem 64 persent van die deelnemers het aan die begin van die ondersoek aan metaboliese sindroom gely, terwyl meer as ’n kwart se simptome verdwyn het nadat hulle die dieet gevolg het.

Die ondersoek, onder leiding van dr. Jordi Salas-Salvado van die Universitat Rovira i Virgili en Hospital Universitari de Sant Joan de Reus, is in die Kanadese mediese vereniging se joernaal gepubliseer. “Omdat daar geen verskille tussen die groepe se gewigsverlies of energieverbruik was nie, kan die verandering waarskynlik aan die verskil in dieetpatrone toegeskryf word,” sê Jordi.

Die uitslae toon die dieet met volop olyfolie is die doeltreffendste omdat dit vermoedelik keer dat vet om die middel aanpak – dikwels ’n voorloper van diabetes.

Die bevindinge beklemtoon egter die feit dat die dieet nie gekeer het dat metaboliese dieet voorkom nie, maar dit kan help omkeer. “Mediterreense diëte aangevul met olyfolie of neute is nie in verband gebring met ’n verminderde voorkoms van metaboliese sindroom vergeleke met ’n latevetdieet nie, maar albei diëte is in verband gebring met ’n beduidende omkeerkoers van metaboliese sindroom,” is bevind.

© Cover Media