Jou metabolisme verlangsaam stadigaan en laat vet opbou en maer spiere verminder.

Dit klink na ’n vreesaanjaende vooruitsig, maar daar is maniere om te keer dat dit gebeur – dit beteken net jy moet jou oefenprogram effens aanpas. As jy reeds ’n gesonde en aktiewe leefstyl het, doen so voort. Indien nie, is dit nou tyd om te begin voor dit te laat is om aan te pas.

Reeksoefeninge is een manier om jou op koers te kry. Hierdie vorm van liggaamskondisionering behels hoë-intensiteit aërobiese oefeninge om jou bloed aan die pomp te kry. Die aktiwiteite word afgewissel sodat jy nie verveeld raak nie en daar is makliker opsies vir beginners.

Onthou, verskillende oefeninge is gemik op verskillende dele van jou lyf, soos opstote vir jou bolyf, opsitte vir jou kern en romp, en trapoefeninge vir jou onderlyf. Daar is natuurlik ook oefeninge wat oraloor werk, soos touspring en hurkspronge. Deur ’n mengsel van hierdie oefeninge vier keer per week sowat ’n uur op ’n slag te doen, sal jy stappe neem om jou metabolisme ’n hupstoot te gee.

As dit te oorweldigend lyk, is daar lae intensiteit-opsies, soos eenvoudige kernbewegings. Maagoefeninge sal nie net jou maagspiere ferm maak nie, maar ook jou spysvertering en asemhaling verbeter en ontslae raak van daardie knoop wat jy in jou maag voel wanneer jy oefen. Probeer plankoefeninge, kruloefeninge en die oefenfiets om jou aan die gang te kry. Jy kan ook ’n fiksheids-app aflaai wat jou meer voorstelle vir jou kern sal bied.

En moenie vergeet nie: iets so eenvoudigs soos stap pleks van die bus haal, sal ook jou bloedsomloop ’n hupstoot gee en spiere bou. Mits jy moeite doen om fiks te bly, het jy niks om jou oor te bekommer nie.

© Cover Media