Kan dit wees omdat jy bitter verouderde raad volg?

Kundiges het ernstige vrae oor die riglyne wat in die 80’s gepubliseer is en mense aangeraai het om volroommelk en botter uit te skakel. Hulle beweer trouens hierdie raad moes nooit die lig gesien het nie.

Volgens onlangse navorsing is die bewerings dat die uitskakeling van hierdie produkte jou kans op hartsiektes sal verskraal, ongegrond. Hierdie raad kan selfs meer kwaad as goed doen, want dit help vetsug aan deur koolhidrate te bevorder as ’n byproduk by die verdagmaking van botter, kaas en room.

Die studie, wat in die aanlyn tydskrif van die British Medical Journal Open Heart gepubliseer is, lui: “Die huidige navorsing het tot die gevolgtrekking geraak dat daardie dieetraad nie net hersien moet word nie; dit moes nooit aangebied gewees het nie.“

Om dié navorsing onpartydig te maak, het die wetenskaplikes data bestudeer van toetse wat in die 80’s in die Verenigde Koninkryk en Amerika beskikbaar sou wees. Hulle het ses gevind, waar 2 467 mans wat ’n hartaanval of iets soortgelyks oorleef het, betrokke was.

Hierdie toetse het die vette in die dieet, die cholesterol en hartsiektes in ag geneem, maar hulle kon geen noemenswaardige verskille kry tussen deelnemers wat ’n hoë- en laevetdieet gevolg het en die voorkoms van sterfte weens hartsiektes nie.

Prof. Iain Broom van die Robert Gordon-universiteit in Aberdeen het, in die lig van die nuwe bevindings, die boikot van die suiwelbedryf gekritiseer en die uitgediende advies verkwalik vir die verhoging van koolhidraatinname sodat dit die helfte van die dieet vorm. Volgens hom is dit die rede vir die toenemende voorkoms van vetsug en tipe 2-diabetes.

“Dit is hoog tyd dat die Britse regering die bul by die horings pak en ’n onbeheersde eksperiment stopsit wat oor die hele wêreld versprei het en wat moontlik slegte gevolge gehad het betreffende die ontploffing van vetsug. Hulle het heel moontlik ’n siekliker nasie geskep onder die huidige vaandel van ‘gesond eet’,” het hy gesê.

Zoe Harcombe, van die Instituut van Kliniese Oefening-en-gesondheidswetenskap aan die Universiteit van die Weste van Skotland, Hamilton, en dr. James DiNicolantonio, van die St. Luke Mid-Amerikaanse Hart-instituut in Kansas City, steun hierdie beskouing.

Die navorsingstudie is egter reeds gekritiseer. Baie navorsers beweer hartsterftes het drasties afgeneem sedert die advies oor ’n laevetdieet gepubliseer is.

Die Britte is in 1983 aangeraai om hul algehele vet-inname tot 30 persent te beperk. Dit is eers in 1991 opgeskuif tot 35 persent. Inname van versadigde vette bly beperk tot die aanbevole 10 persent.

Die goue reël, soos in die meeste gevalle, is: Wissel jou dieet af.

Sluit liewer gesonde vette, soos byvoorbeeld dié in avokado’s, by jou etes in, pleks dat jy vette heeltemal uitskakel. En moenie net op koolhidrate staatmaak as plaasvervanger nie – maak seker jy kry ook genoeg vesel, proteïene en vitamiene in.

© Cover Media