[caption id="attachment_123988" align="alignnone" width="600"]kjlkj Kenners gee raad oor wanneer jou kind dalk ’n bril gaan nodig hê. Foto: Facebook[/caption]

’n Bril is een van die maniere om voldoende ontwikkeling te verseker, sê die Suid-Afrikaanse oogkundige vereniging.

“Ons stel voor kinders moet teen die laatste op die ouderdom van drie ’n volledige oogtoets ondergaan,” vertel Inge Loubser, ’n oogkundige van Mellins i-Style in Bloemfontein.

’n Pediater sou vroeër enige oogprobleme, soos byvoorbeeld as ’n baba se oogspiere skeefgetrek is, optel tydens algemene opvolgbesoeke. Dan reeds kan die kind ’n brilletjie dra wat met ’n rekkie om die kop vasgemaak word.

Die pediater of oogkundige sal ’n kind verwys na ’n oogspesialis as daar dalk ’n operasie nodig is. Dit is ook belangrik om die kind se sig weer te laat toets voordat hy of sy skool toe gaan, sodat dit nie leer en ontwikkeling belemmer nie, voeg Inge by.

Dit is ’n belangrike deel om vas te stel of ’n kind skoolgereed is.

Oogprobleme kan geneties wees, maar dit beteken nie noodwendig as boetie, sussie of die ouers bril dra, dit ook die kind se voorland sal wees nie.

Van die tekens wat ouers moet kyk dat die kind dalk ’n bril gaan nodig hê, is:

  • Lyk hy gemaklik met sy sig voor die TV? Moet hy naby die skerm gaan sit om beter te sien?
  • As sy buite is kyk sy byvoorbeeld na die voëltjies as sy hulle hoor kwetter – volg sy haar omgewing met haar ogies?
  • Trek hy gereeld sy ogies op skrefies of maak een ogie die heeltyd toe?
  • Vryf hy aanmekaar aan sy ogies en lyk dit rooi en geïrriteerd?
  • Trek een of albei ogies skeef as hy moeg is?
  • Draai haar oë na buite of binne, wat kan dui op die spiere wat skeef trek?

Hou jou kind se oogontwikkeling dop:

Die volgende vaardighede moet teen elke ouderdom behaal word en is tekens daarvan alles vorder normaal.

Op drie maande moet jou kind:

  • Jou gesig volg van kant tot kant.
  • Glimlag en reageer as iemand aan hom aandag skenk.
  • Belangstelling toon in ’n gesig of voorwerp wat naby gehou word.

Op ses maande moet jou kind:

  • Uitreik met sy armpies om opgetel te word.
  • Albei oë saam beweeg.
  • Uitreik na ’n speelding of ander voorwerp.

Op nege maande moet jou kind:

  • Belangstelling toon in die aktiwiteit van mense of diere naby.
  • Klein speelgoedjies kan eien daarmee speel.
  • Kyk waar `n voorwerp geval het.

Op twaalf maande moet die kind:

  • Bekende mense kan herken aan die anderkant van ’n kamer.
  • Die interaksie van kiekeboe (“peek-a-boo”) geniet.
  • Klein voorwerpe erken en optel met sy of haar duim en wysvinger.

As jy nie seker is oor enige van hierdie mylpale nie, gaan sien ’n professionele persoon soos ’n oogkundige.

Vereistes van brille vir kinders:

Kinders se brille moet sterk wees en aktiwiteite soos sport, skool en speeltyd kan weerstaan. Dit moet ook onbreekbaar, buigbaar en so lig as moontlik wees.

Maak seker dat jou kind se bril aan die volgende vereistes voldoen:

  • Hoë impakweerstand
  • Lense met goeie weerstand teen krapmerke
  • Anti-weerkaatsende bedekking wat maklik skoongemaak kan word
  • Perfek pas (’n Bril moet nooit te styf of te los om die kop pas nie en moet nooit druk op die ore plaas nie)

EKSTRA BRONNE: SPECSAVERS.CO.ZA , MELLINS.CO.ZA

Lees ook op Huisgenoot.com:

Testikulêre kanker: Wat elke man moet weet

Identiteitsbedrog: Hier is hoe jy jouself beskerm

Verloor só gewig sonder om enige kos uit te sny

Met dié 10 kitsoplossings sal jy jou huis lag-lag skoon hou