1. Lê klem op die feit dat wat die slaapprobleem ook al behels, dit albei se verantwoordelikheid is. Moenie jou maat vervreem deur te sê dit is slegs hul probleem nie – verwys daarna as “ons probleem” en probeer dit saam oplos.

2. Maak so as jou maat snork: Volgens die Amerikaanse Nasionale Slaapstigting snork 37 miljoen volwassenes gereeld. Probeer alkohol net voor slaaptyd vermy, aangesien dit stremming op die lugweë kan vererger. Probeer ook eerder op jou sy slaap. As dit nie help nie, is dit die moeite werd om ’n slaapdokter te besoek, aangesien snork ’n teken van slaapapnee kan wees.

3. Maak so as die kinders jou saans steur: As eggenote nie kan saamstem oor hoe om te maak as ’n kind met ’n slegte droom sukkel of hul bed natmaak nie, kan dit konflik veroorsaak. Bespreek die probleem deur die dag buite die slaapkamer en probeer ’n kompromie bereik. Besluit of julle die kind sal toelaat om by julle in te klim en hoe julle die verantwoordelikheid gaan deel om snags op te staan en na die kind om te sien.

4. Maak so as julle verskillende tye gaan slaap en opstaan: Julle moet hieroor praat en ’n kompromie bereik. Beloof mekaar dat die een wat later gaan slaap, so stil moontlik sal wees en die een wat eerste opstaan dieselfde sal doen. Spreek ’n tyd soggens of saans af om te gesels of intiem te verkeer wat nie een se slaappatroon sal versteur nie.

5. Maak so as jou maat weens stres nie aan die slaap kan raak nie: Stres kan jou maat laat wakker lê, maar dikwels duik stres verskillende tye vir verskillende maats op. Probeer dit vermy om saans net slaaptyd te praat oor dit wat julle bekommer. Vermy stimulante soos gaskoeldrank, sjokolade en koffie minstens vier uur voor julle in die bed klim.

6. Maak so as jy ’n donker kamer verkies terwyl jou maat die lig wil aanlos: Koop ’n lampie met ’n lae stroomspanning wat nie so helder is nie, of koop ’n leeslampie wat jy aan ’n boek kan vasmaak. Belê in ’n goeie oogmasker wat die lig kan uithou.

7. Maak so as jy jou maat wil omhels, maar hulle ruimte soek wanneer hulle slaap: Kom ooreen om mekaar saans vas te hou tot die een wat dit verkies aan die slaap raak. Dan kan die ander maat rustig op hul eie lê. Of besluit op ’n vasgestelde 10 of 15 minute waarin julle mekaar vashou en gesels en dan slaap elkeen deur die nag op sy eie.

8. Maak so as jou maat die TV nodig het om aan die slaap te raak en jy stilte verkies: Stel jou TV om na 15-30 minute self af te skakel wanneer jou maat aan die slaap geraak het. As die geraas nie heeltemal uitgesluit kan word nie, kom ooreen dat dit baie sag moet wees en hou ’n waaier langs jou wat die TV se geluid sal verdring. Belê ook in ’n stel goeie oorpluisies.

9. Maak so as jou maat die kombers steel: Belê in twee komberse. Dit is moeilik vir een maat om albei komberse te steel.

10. Maak so as jou maat rusteloos slaap: Dit help om minstens ’n koningingrootte bed te koop. So sal jou maat se beweging jou nie soveel steur nie. Probeer ook om verskeie komberse en kussings op die bed te hou wat jou maat se houe sal afweer.