Die beste manier om dit te voorkom, is natuurlik om te let op wat jy drink, nooit jou alkohol te meng nie en genoeg water te drink. Almal gaan af en toe oorboord, en selfs al doen jy dit nie, kan jy wel soms ’n hoofpyn hê. Ons bekyk die redes.

Hoofpyn is die algemeenste aanduiding van babelas en dit is bloot te wyte aan ontwatering. Alkohol is ’n ontwateringsmiddel en die liggaam gebruik water om te help om dit te verdun, en dan moet dit uitgeskei word. Jou binnegoed droog dus uit en dit veroorsaak hoofpyn, maar volgens Ella Allred, voedingskundige by nutricentre.com, is dit nie voldoende om net water te drink nie. Vir werklike resultate moet jy water met bygevoegde minerale en elektroliete inkry, want dit is die goed wat hidrasie beheer.

Soek jy iets interessanters? Shona Wilkinson, hoofvoedingskundige by nutricentre.com, stel voor piekelvloeistof sal jou vinnig regruk aangesien die asyn help om die lewer van gifstowwe te reinig.

Baie mense glo vetterige kos sal help ná ’n aand van oordaad, maar dis nie waar nie. Jy sal inderwaarheid beter voel as jy ’n goeie dosis vitamine afsluk. Dit beteken vrugte en groente kan die sleutel wees.

Enigiets wat ryk is aan antioksidante sal help om jou liggaam reg te ruk, dus is dit ’n goeie idee om aan aarbeie en druiwe weg te lê. Neute, blaargroente en patats sal ook nuttig te pas kom. As jou maag te gevoelig is vir iets groots, moet jy ten minste probeer om iets in te kry – as jy jou liggaam voed, sal jy wakker en meer energiek voel.

Beproef ’n maaltyd gevul met koolhidrate en proteïen, dus is ’n gebakte patat met tuna die ware Jakob. Jy kan dalk verkies om aan iets soets en gaskoeldrank te smul, maar die kort energie-hupstoot gaan vinnig platval en dan sal jy selfs slegter voel as tevore.

Ten laaste: beweeg! Oefening sal die heel laaste ding wees waaraan jy op hierdie tydstip kan dink, maar om dinge uit te sweet, werk beslis. Dit help jou liggaam om van al die gifstowwe ontslae te raak.

© Cover Media