Selfs al eet jy vroegoggend, kom daar tye wanneer jy net ’n paar uur later weer honger voel. Dan kan jou lewenslus afneem en jy kan vaak voel – terwyl jou maag grom.

Maar dit is nie goed vir jou middellyf as jy so gou ná ontbyt weer eet nie. Wat kan jy doen om dit te voorkom?

Dit kom neer op die hoeveelheid kilojoules wat jy met ontbyt inneem.

Dink mooi oor die belangrikheid van ontbyt. Net ’n piesang of ’n appel sal jou nie vul en aan die gang hou nie – jy moet iets voedsamer inkry, wat ongeveer 1 260 kilojoules bevat.

Dit klink na baie, maar as jy die regte kosse eet en gereeld oefening doen, sal die kilogramme nie ophoop nie.

Rog- of volgraanbrood is goeie opsies wanneer dit gekombineer word met grondboontjiebotter of avokado, wat propvol goeie vette, proteïen en koolhidrate is. Dit sal jou ’n hupstoot gee en jou lus vir peusel hokslaan.

Stephanie Clarke en Willow Jarosh, geregistreerde dieetkundiges by C&J Nutrition, het die belangrikheid van dit wat jy eet aan Popsugar beklemtoon. Hulle steun die feit dat dit heilsaam is om proteïen en koolhidrate by jou ontbyt in te sluit, en voeg by ongeveer 13 tot 20 g proteïen is geskik, terwyl 40 tot 55 g koolhidrate ideaal is.

Hierbenewens word gesonde vette – soos botter of klapperolie – ook op die lys geplaas, met ongeveer 10 tot 15 g wat as geskik beskou word. Vesel sal ook werk, en 6 g sal help om jou versadig te hou.

Jou gevoel van honger het moontlik niks uit te waai met kos nie – trouens, jy is waarskynlik nie eens honger nie. As jy die nag sleg geslaap het en jy is moeg in die oggend, is jy meer geneig om te eet in die hoop dat dit jou sal wakker maak. Jy kan ook dors verwar met honger, en jy sal miskien meer versadig voel nadat jy water gedrink het. Of dis moontlik jy het dalk iets onder lede.

Hou by jou gewone eetroetine en kyk hoe dinge verloop voor jy oorhaastige gevolgtrekkings maak.

© Cover Media