Daar word lankal geglo mense met ’n gestruktureerde lewe het minder las van stres – as jy weet wat die dag vir jou inhou as jy dit deeglik beplan het sodat jy weet wat jy op vasgestelde tye moet doen, sal jy minder gestres voel. Dit beteken jy sal beter georganiseerd en minder geneig wees om jou te bekommer oor waar jy alles sal inpas.

Uit navorsing deur die Douglas Mental Health University Institute en die McGill-universiteit blyk dat struktuur soos vasgestelde etenstye en vroeg bed toe gaan in werklikheid ’n dramatiese uitwerking op jou gesondheid kan hê. Dit beteken dat, benewens die 24-uur-siklus van die liggaam, dit ook in dele van vier uur, bekend as ultradiaanse ritme, werk. As dit versteur word, kan dit drastiese gevolge hê vir liggaam sowel as gees. Hoe laat ons gaan slaap en hoe laat ons wakker word, het albei te doen met ons interne 24-uur-siklus, ook genoem die sirkadiaanse horlosie. Die studieleier, Kai-Florian Storch, verduidelik egter dat die vieruursiklus ook ’n yslike impak op ons welstand kan uitoefen. Dit kan dinge soos slaap, honger, temperatuur en hormoonvlakke beïnvloed. Hierdie korter siklusse is die beste waarneembaar by babas wat snags met tussenposes wakker word. Dit is ook hoekom die meeste mense drie maaltye verkies wat reëlmatig deur die dag versprei word.
Maar as jy ’n gesonde lewe wil lei, is dit ’n goeie idee om na jou liggaam te luister en die ewewig te probeer bewaar.

Die stuk is in die aanlyn tydskrif eLife gepubliseer. Daarin word verduidelik dat die hormoon dopamien veranderings in die werking van die vieruursiklusse kan aanbring. Die hormoon stuur seine tussen die senuwees in en dit beheer die beloning- en plesiersentums in die brein. Dit reguleer ook beweging en emosies, en omdat dit vrygestel word wanneer mense plesier ondervind, is dit ook al voorheen aan verslawing gekoppel.

Die probleem rakende die nuwe navorsing is dat die vieruursiklusse selfs oor tot twee volle dae kan strek as die hormoonvlakke nie reg is nie. Voorheen is aangeneem dat slaapprobleme deur die sirkadiese horlosie veroorsaak word, maar dit blyk nou dat dit in der waarheid ook aan die ultradiaanse ritme te wyte is.

Dit kan dalk die rede wees hoekom mense wat bipolêr is hulle soms in ’n tweedagsiklus van hoogte- en laagtepunte bevind.

Basies gestel, impliseer dit dat as die vieruursiklus verkeerd ingestel word, mense sal sukkel om te slaap, en dié wat aan bipolariteit ly, moontlik ’n maniese episode kan beleef. Hopelik kan mense wat aan sekere geestessiektes ly, moontlik baat vind by hierdie navorsing aangesien dit beklemtoon hoe uiters belangrik dit is om jou dag behoorlik te beplan en by ’n vasgestelde skedule te hou.

Dit beteken vanselfsprekend nie dat iemand wat ongereeld eet of tot in die vroeë oggendure wakker bly ’n geestessiekte sal opdoen nie. Maar as jy ’n gesonde lewe wil lei, is dit ’n goeie idee om na jou liggaam te luister en die ewewig te probeer bewaar. Dit beteken dat jy op ’n gereelde grondslag moet sorg vir brandstof deur middel van voedsel, en dat jy genoeg slaap moet inkry.

© Cover Media