Debatte word al lank gevoer oor die uitwerking wat dit op ’n kind of tiener het wat voor die PlayStation of Xbox vasgenael sit.

Dr. Jesus Pujol en sy kollegas by die Hospital del Mar in Spanje het, ten einde ’n bietjie lig op die saak te werp, die verhouding tussen die weeklikse speel van videospeletjies en sekere kognitiewe vaardighede en gedragsverwante probleme nagevors.

Die navorsers het 2 442 kinders tussen 7 en 11 jaar oud bestudeer en bevind waar videospeletjies een uur per week gespeel is, dit met beter motoriese vaardighede en hoër prestasiepunte by die skool verbind kan word. Geen verdere voordele is egter opgemerk by kinders wat langer as twee uur per week speel nie.

Die span het ook bevind die tyd wat weekliks met videospeletjies verwyl word, word toenemend verbind met gedragsprobleme, portuurkonflik en verminderde sosiale vaardighede. Hierdie negatiewe uitwerking het veral voorgekom by kinders wat elke week nege uur of langer videospeletjies gespeel het.

“Videospeletjies op sigself is nie goed of sleg nie, maar die vlak van die speletjie is die probleem,” is Pujol se mening.

Toe die navorsers die skanderings van die magnetiese resonansie van die breine van ’n subgroep van die kinders in die studie bekyk, het hulle gemerk die speel van speletjies is verbind met veranderings in die witstof van die basale ganglia en doeltreffende aansluitbaarheid.

“Die spelery word verbind met die beter werking van breinbane wat noodsaaklik is vir leer en wat gegrond is op die aanleer van nuwe vaardighede deur oefening,” het Pujol verduidelik.

“Kinders het in die verlede motoriese vaardighede aangeleer deur middel van beweging, byvoorbeeld deur sport en speletjies in die buitelug.

Navorsing oor neuro-beeldvorming suggereer nou dat opleiding met virtuele omgewings op die rekenaar ook in staat is om breinstelsels te reguleer wat die leer van motoriese vaardighede steun.”

Die bevindings is in die Annals of Neurology gepubliseer.

© Cover Media