Om na ’n kundige uit te reik, beteken nie jy gee jou oor aan jou probleme nie; dit is beter om op ’n opgeleide persoon te steun as om probleme op jou eie te probeer verwerk.

Maar hoe weet jy wanneer jy die regte sielkundige of terapeut gevind het? Dis nie ’n maklike proses nie, en hoe vinniger jy hulp soek, hou gouer kan jy weer op die herstelpad kom.

Maak seker jy doen moeite wanneer jy ’n terapeut kies. Hier is ’n paar wenke:

Maak seker jy is gereed vir hulp

Voor jy enigiets doen, moet jy seker maak jy is reg om ontleed en op die regte pad gestuur te word. Betree die situasie met ’n oop gemoed en moenie jou bekommer dat niemand sal verstaan nie, want dit is waarvoor die terapeut daar is. As jy probeer het om jou probleme op jou eie te oorkom en niks het verander nie, sal niemand jou veroordeel as jy elders hulp soek nie.

Vra vir verwysings

Moenie ’n persoon kontak oor wie jy nie veel meer weet as wat op hul webtuiste gepubliseer is nie – dis dalk beter om eerder ’n bietjie rond te vra vir verwysings. Dit beteken nie jy hoef jou probleme aan almal te verkondig nie – jy kan net jou naastes vra, soos ’n familielid, vriende of ’n gesondheidsbeampte wat jy dalk gereeld besoek. Dit sal jou meer ontspanne en openhartig laat voel as jy weet iemand wat jou ken en verstaan, het jou met vertroue na ’n spesifieke individu verwys.

Jy hoef ook nie te besluit op die eerste persoon by wie jy om hulp aanklop nie. Beskou dit as ’n onderhoud – wie ook al die geskikte persoon is nadat jy ’n paar ontmoet het, behoort die finale keuse te wees. Moenie jou bekommer as jy dit rustig doen nie, want dit sal vrugte afwerp as jy nie haastig te werk gaan nie.

Kies ’n gespesialiseerde gebied

Dit voel dalk intimiderend om met ’n vreemdeling te gesels, maar as jy weet dit is hul vakgebied sal dit jou gerusstel. Daar is niks mee fout om ’n algemene terapeut of sielkundige te raadpleeg wat alle aspekte van die lewe hanteer nie, maar maak seker die persoon het ’n duidelike en deeglike kennis van jou probleem.

Die moontlikheid bestaan dat jy geld kan uitgee op iemand wat jou glad nie help nie, in plaas van om iemand te kies wat beweer hulle weet alles oor verskillende gebiede.

Maak seker daar is ’n band

Ongeag of die persoon 15 of vyf verwysings het, is die belangrikste dat jy voel jy kan hulle vertrou en dat dit jou baat. Daar is al bewys die doeltreffendste metode van terapie is om ’n sterk verhouding met warmte en aanvaarding te hê en nie net met die kundige se prestasies gemoeid wees nie.

© Cover Media