Om ’n pad met die groot K en chemoterapie te stap, is vir oud en jonk angswekkend.

Janie du Plessis, ’n gewilde motiveringspreker en voormalige televisieaanbieder, is deesdae die uitvoerende hoof van People Living with Cancer en Cancervive. Janie het self kanker geklop. Sy was 35 jaar oud en het in Europa gewoon toe borskanker by haar gediagnoseer is.

Ons lesers soek gereeld op ons webtuiste na raad oor kanker en chemoterapie. Na aanleiding hiervan het Huisgenoot Janie gevra vir wenke aan mense wat ook die moeilike pad moes stap.

“Ek het al baie hieroor gedink en het nie regtig wenke om die pad (met chemoterapie) makliker te maak nie. Dit is pure hel,” sê Janie.

“Ek onthou ek het probeer positief wees, maar dit was soms moeilik. In die lig hiervan kan ek net probeer (wenke gee), maar dis die soort vraag wat net iemand vra wat nog nie daardeur is nie. Dis superpersoonlik en ’n baie moeilike gespreksonderwerp vir iemand wat kanker geklop het. As jy dit oorleef het, probeer jy net daarvan vergeet. ”

Hier is Janie se wenke om die genadelose pad met chemoterapie en kanker makliker maak:

• Rig jou slaapkamer gemaklik in met ’n leeslamp, warmwatersak, sagte lakens en alles wat jou moontlik kan vertroetel wanneer jy in die bed klim.

• Kry iewers in die huis ’n gemaklike stoel met ’n kombersie om op die tuin te kan uitkyk of na ietsie moois buite. Ná ’n paar chemo-sessies voel ’n mens baie swak; dan is dit lekker om ’n plekkie in die huis te hê waar jy kan sit en lees en rustig bly.

• As jy kan, hou dagboek. Daar is soveel intense geestelike oomblikke. Later kyk jy terug en is jy jammer jy het dit nie neergeskryf nie.

• Tydens chemo gaan jy dikwels koud kry, veral as jou hare uitval. Kry ’n snoesige mussie en ’n sagte kombersie wat jy naby jou hou.

• Ondergaan radioterapie, wat baie uitputtend is, in die middag. As jy dit in die oggend kry, slaap jy jou middag om. As jy dit in die middag kry, slaap jy in die aand en het jy die volgende oggend energie om dinge te doen.

Elke dag gaan nie sleg wees nie. As jy ’n goeie dag het, probeer ’n bietjie oefening inkry. Gaan stap langs die see of op ’n mooi plek in die natuur.

• Elke dag gaan nie sleg wees nie. As jy ’n goeie dag het, probeer ’n bietjie oefening inkry. Gaan stap langs die see of op ’n mooi plek in die natuur.

• Onthou om die lekker raak te sien, al stap jy ’n swaar pad.

• Jou kinders het jou nodig. Wy die goeie dae aan hulle.

• Visualiseer die einde van jou behandeling – hoe jy gaan gesond word en wat jy alles gaan doen wanneer dit verby is. Dit sal jou dadelik beter laat voel.

Elke dag gaan nie sleg wees nie. As jy ’n goeie dag het, probeer ’n bietjie oefening inkry. Gaan stap langs die see of op ’n mooi plek in die natuur. (1)

• Wees bewus van wat jy dink. Oefen om die swaar gedagtes uit jou kop te sit.

• Slaap.

• Al voel dit soos baie werk en al wil jy dit nie doen nie, probeer elke dag bad en maak seker jy trek dikwels skoon pajamas aan. Siek mense ruik soos siek mense. Dis sleg vir jou kop.

• Behou jou humorsin. Al is jy siek, is daar altyd ietsie om oor te lag. As jy dit nie sien nie, soek dit.

• Onthou: Alles in die lewe is van verbygaande aard.

Janie du Plessis is die uitvoerende hoof van Cancervive. Cancervive is ’n bewusmakings- en opvoedkundige projek van People Living with Cancer, ’n organisasie sonder winsbejag. Die organisasie is gestig deur mense wat kanker geklop het. Die projek spits hom daarop toe om mense in te lig oor vroegtydige diagnose en gee bystand aan mense wat met die siekte saamleef.