Bobby van Jaarsveld se twee seuns het Maandag ’n traumatiese ervaring gehad nadat ’n grypdief die ruit uitgeslaan het van die motor waarin hulle saam met Bobby se jonger suster, Cara Brink, gery het.

Die sanger het later aan Huisgenoot bevestig die ervaring het duidelik ’n blywende impak op sy seuns (3 en 4 jaar) gehad.

Volgens Marita Rademeyer, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg wat in trauma spesialiseer, interpreteer kinders traumatiese ervarings verskillend op verskillende ouderdomme.

“In ’n geval soos hierdie verstaan hulle byvoorbeeld nie dat iemand by die kar wil inbreek nie. Hulle kan dink die mens wil hulle gryp,” verduidelik sy.

“Op daardie ouderdom neem hulle goed baie persoonlik op en dis veral algemeen dat voorskoolse kinders dinge verkeerd verstaan.”

Marita meen sulke traumatiese gebeure kan skadelik wees vir jong kinders, en dat dit vir ouers belangrik is om te kyk hoe hulle reageer op wat hulle beleef het. “Sommige kinders sal verbaal wees daaroor, terwyl ander dit weer sal wil uitspeel.”

Dalene Rathnum, ’n traumaberader van Family Life Center in Johannesburg, voeg by nagmerries, bednatmaak en ’n verandering in eetpatroon kan ook ná trauma volg. “Kinders kan ook klouerig aan hul ma of pa wees,” sê sy.

Marita noem die gesinsmotor is ’n verlengstuk van die gesinshuis. Albei is vir kinders ’n persoonlike ruimte. In ’n geval soos met Bobby se kinders waar ’n grypdief die ruit uitslaan, beleef hulle ’n indringing van hul ruimte, sê sy.

Die manier waarop volwassenes hul kinders ná so ’n voorval hanteer, is ook belangrik. “Ouers moet bedag wees op wat hulle sê,” vertel sy. Die belangrikste ding vir die ouers is om weer ’n roetine by hul kinders te bewerkstellig. “Soos om na hul skooltjie te gaan en ook as ’n gesin saam te eet, want dikwels word roetine in sulke situasies omvergegooi.”

Dalene noem ook dit is uiters noodsaaklik dat ouers hul kinders se onderwysers inlig oor wat gebeur het. “Party kinders kan op die trauma reageer deur ander kinders af te knou omdat hulle nie weet hoe om dit te hanteer nie,” sê sy. En as die onderwysers nie weet waar hierdie gedrag vandaan kom nie, gaan hulle dink die kind is bloot stout.

Kinders se reaksie op trauma ontvou ook oor ’n langer tyd, vertel Marita. “Aanvanklik lyk hulle oukei, maar hulle kan byvoorbeeld ’n maand later groot skrik as die weerlig slaan.”

Daarom maan Marita ouers om maande later steeds op die uitkyk te wees vir angstigheid by hul kroos.