Britse navorsers sê nie net mans nie maar ook ander vroue vind hoë hakke aantrekliker, terwyl twee derdes van sakevroue sê dié skoene gee hul selfbeeld, gemoed en selfvertroue ’n hupstoot. En die kanse dat ’n man vir ’n vrou sal glimlag, verdubbel die oomblik dat sy hoë hakke pleks van plat skoene dra.  

’n Span van die Universiteit van Aberdeen het 20 publikasies oor hoëhakskoene bestudeer om te bepaal hoe dit die risiko vir spierskelet-pyn en besering beïnvloed.

Hulle het bevind vroue wat skoene met hoër hakke dra, kan ’n verskeidenheid probleme ontwikkel, soos rug- en enkelpyn. Hulle val ook makliker en is meer blootgestel aan ander probleme soos knokkeltone.

Die resultate is in die vaktydskrif BMC Public Health gepubliseer. Die hoofskrywer, dr. Max Barnish, verduidelik: “Daar is druk op vroue om hoë hakke te dra. Beroemdes soos Victoria Beckham en Kate Middleton dra dié skoene en beïnvloed so die mode."

“Daar is dikwels nie reëls oor die dra van hoëhakskoene nie, maar in sommige werkplekke is daar ’n ongeskrewe verwagting dat al die vroue dit doen.

"Vroue doen dikwels enkelbreuke en –verstuitings, rugpyn en knokkeltone op weens hoë hakke. Maar omdat dié skoene as aantreklik beskou word, skep dit ’n dilemma.”

Barnish bepleit nou Britse wetgewing om die kwessie te takel, veral ná ’n aantal opspraakwekkende gevalle van vroue wat gedwing word om hoëhakskoene by die werk te dra. 

’n Lugwaardin van British Airways het onthul sy voel soos ’n prostituut omdat aangesê is om spykerhakskoene op die lughawe te dra, terwyl ’n ontvangsdame by ’n kantoor in Londen verlede jaar huis toe gestuur is toe sy met plat skoene by die werk opdaag. Dit het gelei tot ’n petisie om maatskappye te keer om te vereis dat vrouewerknemers ’n spesifieke voorkoms moet hê.

“Geen werkgewer behoort teen werknemers te diskrimineer op grond van geslag nie – dis onaanvaarbaar en dis teen die wet,” het ’n regeringswoordvoerder gesê oor die nuwe navorsing.

“Kleredragreëls moet gelykwaardige voorskrifte vir mans én vroue gee. Die regering sal nuwe riglyne opstel vir kleredragreëls in die werkplek ten einde die wet duideliker te maak vir werkgewers en werknemers.”