Baie vroue gebruik dié modeskoene om glans aan ’n uitrusting te verleen of vir ’n meer regop voorkoms wanneer hulle uitgaan. ’n Nuwe studie het egter bevind dat die dra van uitermate hoë hakke skadelik kan wees vir jou liggaam. Ons praat nou ook nie net van ses duim hoë spykerhakke nie – o nee, daar is bevind dat drie duim hoë hakke die persoon se gang (die looppatroon) kan verander sodat dit lyk soos die gang van mense met verouderende artritis-knieë.

Navorsers by die Universiteit van Stanford in Kalifornië het die gang getoets van 14 vroue wat orndgeloop het met ’n verskeidenheid van skoene aan. Hulle het in alle soorte skoene, van plat oefenskoene tot skoene met drie duim hoë hakke, gepronk en daar is bevind dat, hoe hoër die hak, hoe meer het die gang en die beweging van die knie verander.

“Aangesien mans en vroue blykbaar eenderse biomeganika in hulle knieë het as hulle kaalvoet loop, is verskillende soorte skoene vir die twee geslagte (veral hoëhakskoene) aangedui as ’n moontlike faktor by die hoër voorkoms van osteoartritis by vroue,” het navorsers beweer. Hulle het daarop gewys dat dit dalk sou kon verklaar hoekom osteoartritis twee keer meer by vroue gevind word as by mans.

Osteoartritis is die mees algmene vorm van artritis. Dit word veroorsaak deur slytasie van die kraakbeen.

Kraakbeen help die gewrigte om die impak van beweging te verduur: buig, vasvat, kniel en oplig.

Die bevindings is in die Journal of Orthopaedic Research gepubliseer. Hulle beklemtoon ook die feit dat oorgewig dinge vererger. “Baie van die veranderings wat waargeneem is by die verhoging van hakke en van gewig, is soortgelyk aan dié wat waargeneem word by veroudering en by die verloop van osteoartritis.

'Daar is bevind dat drie duim hoë hakke die persoon se looppatroon kan verander sodat dit lyk soos die gang van mense met verouderende artritis-knieë.'

“Dit dui daarop dat die dra van hoëhakskoene, veral as dit gekombineer word met addisionele gewig, kan bydra tot die verhoogde risiko van osteoartritis by vroue,” beweer die bevindings.

Hierdie ondersoek kom net twee maande nadat deskundiges bevind het dat die dra van hoë hakke kan voorkom dat jy ernstig beseer word wanneer jy val.

Christopher Walker, ’n raadgewer by die afdeling trauma en ortopediese snykunde aan die Royal Liverpool University Hospital, het bevind dat, soos jy ouer word, die dra van ’n skoen met ’n effense hak jou kan help om jou balans te behou – iets wat van nature afneem soos jy ouer word.

"Die meeste hoëhakskoene het ’n baie klein oppervlakte om op te loop, dus moet jou balans en jou propriosepsie (’n begrip van die manier waarop verskillende liggaamsdele in verhouding met mekaar beweeg) baie goed wees, ten einde met hulle te kan loop,” het Christpher verduidelik.

"Dit beteken dat die dra van hoëhakskoene aan vroue ’n baie goeie sin vir balans gee.”

© Cover Media