car accident

Wanneer ’n ongeluk gebeur, moet daar aan wetlike vereistes voldoen word, al het jy dit nie veroorsaak nie. Daarom is dit in jou beste belang om te weet wat hierdie vereistes is. Vermy onaangenaamhede en onnodige spanning deur hierdie stappe te volg:

  1. Hou stil ná die ongeluk. Doen jy dit nie, is dit ’n kriminele oortreding wat jou in die tronk kan laat beland.
  2. Hou stil en skakel jou noodligte aan. Dit sal ander bestuurders oor die ongeluk waarsku. Indien jy in staat is, klim uit jou voertuig en stel die aard en erns vas van die beserings van diegene wat by die ongeluk betrokke is.
  3. Indien nodig, ontbied ’n ambulans en die polisie.
  4. Moenie met die bewyse peuter of die voertuie verskuif as ’n persoon of dier beseer is nie. ’n Uitsondering is as die voertuig die verkeer heeltemal blokkeer; dan kan jy dit effens verskuif sodat die verkeer verby kan beweeg. Doen dit net nadat jy die oorspronklike posisies van voertuie en betrokkenes met spuitverf of kryt gemerk het.
  5. Stel die skade aan die eiendom vas. As jy ’n kamera of selfoon met kamera byderhand het, neem foto’s van die ongeluk vanuit verskillende hoeke. Neem ook vir versekeringsdoeleindes nabyfoto’s van jou voertuig en die ander voertuie wat betrokke is.
  6. Skryf al die toepaslike inligting van al die betrokkenes en voertuie neer, asook dié van ooggetuies van die ongeluk. Dit sluit in volle name en vanne, ID-nommers, huis-, werk en selfoonnommers, woonadresse, e-posadresse en voertuigregistrasienommers.
  7. Dit sal ook help om ’n beskrywing van die voertuie te kry, asook die name en kontakbesonderhede van die polisiebeamptes, ambulanspersoneel en bestuurders van die insleepvoertuie op die toneel.
  8. Let fyn op na alle besonderhede op die ongelukstoneel. Skryf neer wat onmiddellik voor en ná die ongeluk gebeur het. Het die ander bestuurder dalk besope voorgekom? Op die selfoon gepraat? Het hy of sy dalk te vinnig of onverskillig bestuur? Maak ook ’n aantekening van die plek (straatname en voorstad) en tyd van die ongeluk, asook die padtoestande en sigbaarheid ten tye van die ongeluk.
  9. Moenie verantwoordelikheid vir die ongeluk aanvaar nie, selfs al dink jy dat jy dit veroorsaak het. Wanneer jy jou polisieverklaring aflê, gee net die noodsaaklikhede. Raadpleeg eers jou versekeringsmaatskappy of ’n prokureur voor jy ’n geskrewe verklaring onderteken.
  10. As jou voertuigversekering padbystand en insleepdienste insluit, moenie toelaat dat jou voertuig deur enige ander insleepdiens as jou versekeraar se goedgekeurde insleepdiens verwyder word nie.
  11. As jou voertuig weggesleep moet word, vra die insleepdiens vir ’n kwotasie voor dit verwyder word. Indien moontlik, beding ’n beter prys. Kry die naam en kontakbesonderhede van die bestuurder van die insleepvoertuig, vind uit waarheen jou voertuig geneem word en skryf die registrasienommer van die insleepvoertuig neer.
  12. Meld die ongeluk by die polisie aan. As niemand beseer is nie, hoef die polisie nie die ongelukstoneel te besoek nie. Tog moet die ongeluk binne 24 uur deur alle partye wat daarby betrokke was by ’n polisiestasie aangemeld word. As jy dit weens beserings nie kan doen nie, moet jy sodra jy kan – met ’n verduideliking vir die vertraging.
  13. Meld die ongeluk by jou versekeraar aan. Selfs al wil jy nie ’n eis instel nie, moet jy dit steeds aanmeld aangesien die ander party dalk ’n eis teen jou polis sal wil instel.

-Faiza Mallick

Bron: Dial Direct Insurance

Foto: Flickr – meddygarnet