Gesondheidswinkels is vol vreemde aanvullings, en elkeen beweer dit kan jou gesondheid verbeter. Met pryse wat wissel van bekostigbaar tot peperduur, kan dit moeilik wees om te besluit watter een jy moet koop.

Maar is gesondheidsaanvullings hoegenaamd nodig? Ons voorsate het lank en produktief gelewe sonder ’n daaglikse vitamienpilletjie. ’n Gesonde dieet wat alle voedselgroepe insluit, verskaf sekerlik genoeg voedingstowwe, of hoe?

“Die gehalte van die vitamiene en minerale in vrugte en groente het met sowat die helfte afgeneem; dus is daar ’n fisiologiese behoefte aan ’n goeie multivitamien, al eet jy organies en gesond,” verduidelik Chris James, ’n deskundige in dieet, joga en welstand.

Weens ons toenemend intensiewe landboumetodes kry die voedingstowwe in die grond nie genoeg tyd om van nature aan te vul nie. Dit beteken daar is minder vitamiene in die grond en dus minder vitamiene in die kos wat ons daaruit kry.

Navorsers aan die Universiteit van Texas in Austin se departement chemie en biochemie het hieroor ondersoek ingestel.

“Pogings om nuwe variëteite gewasse te kweek wat ’n groter opbrengs lewer, weerstandig is teen peste en klimaat-aanpasbaar is, het gewasse gelewer wat groter en vinniger groei, maar hul vermoë om voedingstowwe te vervaardig of op te neem, het nie tred gehou met hul groei nie,” het Donald Davis, die leier van die studie, in 2004 aan die Journal of the American College of Nutrition gesê.

Wat kan ons doen om te vergoed vir hierdie gebrek aan voedingstowwe in ons dieet? Dit is beslis ’n goeie idee om gereeld aanvullings te drink; hoe hoër die gehalte, hoe beter. Maar vir dié met ’n knap begroting is daar baie soorte wat bekostigbaar is.

© Cover Media