’n Onlangse studie toon gesellig wees is goed vir jou gesondheid. Navorsing wat deur die Harvard-universiteit van stapel gestuur is, toon ongesellige mense het ’n hoër vlak van die proteïen fibrinogeen, wat bydra tot hartaanvalle.

Fibrinogeen word in die lewer vervaardig en help met bloedstolling, iets wat ’n mens se lewe kan red. Hoë vlakke oor lang termyn verhoog egter die risiko vir ’n beroerte of hartaanval.

Die navorsingspan het meer as 3 500 mans en vroue se proteïenvlak ondersoek en ook hul sosiale lewe bekyk, byvoorbeeld hoeveel mense die deelnemer as ’n pel beskou en hoeveel mense die deelnemer as ’n pel beskou.

Die deelnemers het tussen twee en 32 vriende opgenoem, en die gemiddelde getal was 10. Elke deelnemer is egter deur net vier mense as ’n vriend/in beskou.

Die korrelasie tussen iemand se waargenome getal vriende en sy fibrinogeenvlak was klein, terwyl dié wat deur baie mense as ’n pel beskou is laer vlakke van die proteïen gehad het.

Dié wat deur minder mense as ’n pel beskou is, het meer fibrinogeen in hul liggaam gehad, terwyl die ongewildstes net soveel fibrinogeen in hul liggaam gehad het soos rokers.

Die bevindings is in ’n Royal Society-tydskrif Proceedings gepubliseer en soos volg verduidelik: “Wat eintlik tel, is die manier waarop ander mense ons beskou, nie die manier waarop ons hulle beskou nie.”

Hierdie navorsing volg op die Massachusetts Institute of Technology se bevinding dat net 50 persent van vriendskappe wederkerig is. Mense kan dus ongewilder wees as wat hulle dink.

© Cover Media