Luidens ’n studie is mense wat min slaap kry meer geneig om soet en kafeïenryke drankies te drink.

Navorsers aan die universiteit van Kalifornië het data van byna 19 000 volwasse Amerikaners ontleed en uitgevind diegene wat gereeld vyf ure of minder per nag slaap, drink 21 persent meer drankies wat met suiker versoet en kafeïenryk is, byvoorbeeld bruis- en energiedrankies, as dié wat sewe of agt ure per nag slaap.

Mense wat gewoonlik ses ure per nag slaap, geniet 11 persent meer van die drankies as dié wat ’n volle nagrus kry.

Die navorsers meen die waargenome gedrag – die drink van suikerdrankies en die verlies aan slaap – versterk mekaar onderling.

Lees ook: Raad as jy sukkel om te slaap

“Dit maak dit moeiliker vir mense om hul ongesonde suikergewoonte uit te skakel,” is die opinie van dr. Aric A. Prather, hoofnavorser. “Die data dui aan dat, as mense hul slaappatroon verbeter, dit hulle kan help om die siklus te verbreek en hul hoë suikerinname te verlaag – iets wat met metaboliese siektes verband hou.”

Volgens die navorsers is hulle nie seker of gereelde suikerryke drankies veroorsaak dat mense minder slaap, en of mense meer suiker en kafeïen inneem omdat hulle gereeld te lank wakker bly nie. Vorige studies dui aan dat albei moontlikhede die geval kan wees.

Die studie kon geen verband vind tussen die hoeveelheid slaap en die inname van sap, tee of dieetdrankies nie.

Lees ook: Suiker verjaag Klaas Vakie

Navorsing wys toenemend die inname van suikerryke drinkgoed hou verband met die metaboliese sindroom – ’n groep siektes waaronder hoë bloedsuiker en oortollige liggaamsvet, wat kan lei tot vetsug en tipe 2-diabetes. ’n Gebrek aan slaap lei ook tot ’n hoër risiko vir metaboliese siektes.

Verskeie studies het onlangs dié twee faktore in kinders van skoolgaande ouderdom verbind en getoon dat kinders wat minder slaap kry, meer geneig is om gedurende die dag bruisdrankies en ander suikerryke drankies te drink.

Die studie is in die tydskrif Sleep Health gepubliseer.

© Cover Media