Of jy nou in een sitting die hele nuwe seisoen van Orange Is the New Black kyk of op die hoogte bly van ’n klomp reekse, dit was nog nooit so maklik om jou TV-regmakertjie te kry nie.

Ongelukkig is oormatige TV-kykery sleg vir ons welsyn, veral wat spierkrag betref.

Die navorser Natasha Reid, ’n Ph.D-kandidaat aan die Universiteit van Queensland, het die uitwerking ondersoek van te lang sessies voor die skerm. Sy het bevind die TV-slawe se onderlyf was swakker as dié van aktiewer mense. 

Sy het tot dié gevolgtrekking gekom nadat sy data van die Australian Diabetes, Obesity and Lifestyle Study ontleed het. Die kykgewoontes van byna 2 000 volwassenes tussen 47 en 85 jaar oud is oor ’n tydperk van 12 jaar ondersoek.

“Daar is beslis aanduidings dat ons minder moet sit en gereelder moet opstaan wanneer ons wel sit,” het Natasha gesê. “Selfs al sit jy nie in geheel minder nie, sal dit steeds beter wees om dit vir korter rukkies op ’n slag te doen.”

Die data is versamel voor dienste soos Netflix beskikbaar was, wat beteken dit kan nou ’n selfs groter probleem raak.

Natasha het haar bevindings in die tydskrif Medicine and Science in Sports and Exercise gepubliseer. Sy hoop nog navorsing sal gedoen word oor die uitwerking wat TV kyk op mense segesondheid kan hê.

As jy wel jeuk om ’n paar episodes in te ryg, kan jy steeds voor die TV oefen. Dink aan van opsitte tot sterspronge, of selfs ’n paar hurkoefeninge. Laat jou hart minstens 15 minute vinniger klop terwyl jy die nuutste episode van Game of Thrones, Better Call Saul of House of Cards geniet.