Hierdie aangrypende woorde deur die skrywer Mark Twain spreek tot die menslike behoefte om te verstaan waarom ons doen wat ons doen.

Watter doel probeer jy bereik wanneer jy besluit om tyd, energie en geld te bestee aan dit wat jy doen?

Judy Goodwin, Kaapstadse lewensafrigter, verduidelik dat hierdie gevoel van doelgerigtheid altyd ’n baie subjektiewe ondervinding is.

“Vir sommige mense is dit so duidelik soos daglig, vir ander is dit minder voor die hand liggend en moeiliker om te identifiseer.

“Sommige mense vind hul lewensdoel deur die wêreld of hul innerlike te verander met groot idees; vir ander is dit te groot en intimiderend.”

Judy sê dat baie mense gewoonlik hul doel vind in kleiner, meer intieme mikpunte en ideale.

“Die een is nie noodwendig beter of belangriker as die ander nie. Dit gaan meer oor dit wat jou siel laat sing en wat jou help om die beste jy moontlik te wees, wat dit ook al beteken – vir jou.

“Daar is net soveel waarde in die vind van ’n doelwit deur ’n tuin aan te lê, ’n yslike korporasie op te bou, ’n geloofsrigting te volg, kinders groot te maak en die skoonheid in elke dag te vind, as wat daar byvoorbeeld is om die wêreld vol te reis of op ’n klein dorpie te woon. Wat wel ’n verskil maak, is hoe jou persoonlike begrip van doel, grootsheid of individualiteit jou help om ’n lewe te lei waarvan jy hou en waarop jy trots is.”

Lees ook: Kenners gee raad: Is dit ooit ’n goeie idee om met jou eks op te maak?

Om jou te help op die reis van selfontdekking en bewustheid, het ons nog ’n paar plaaslike lewensafrigters genader om van die vrae te deel wat jy jouself behoort af te vra in jou soeke na vervulling.

Penny Holburn, Johannesburg:

1. Wat sou jy graag wou doen; wat jy sou doen selfs al word jy nie daarvoor betaal nie?

Ons weet in baie gevalle wat ons doel is. Ons word eenvoudig net so erg vasgevang in dit wat ander ons aansê om te doen en wat hulle ons vertel. Wat ouers, onderwysers, die media, ens. dink, is oukei vir ons doel.

Ons dink dikwels ons kan nie geld maak uit dit wat vir ons lekker is om te doen nie en, ons kies baiekeer ’n doelwit wat op die vergoeding daarvoor gegrond is. Deur betaling buite rekening te laat en die noodsaaklikheid om te oorweeg of daar ander loopbane is uit te skakel, is dit moontlik om net te dink aan dit wat jy graag wil doen.

Jy moet natuurlik eindelik, wanneer jy klaar besluit het wat jy graag wil doen, dit in berekening bring; tog is dit dikwels die eerste oorweging ten opsigte van dit wat jy graag wil doen. Besluit eerste wat jy graag sou wou doen en soek dan maniere waarop jy kan geld maak daaruit en watter soort poste bestaan en loopbane beplan kan word.

Wanneer ons besig is met dit wat reg is vir ons, vergeet ons van die tyd. Ons raak so verdiep in dit wat ons doen dat die tyd eenvoudig verbysnel en wanneer ons weer opkyk, sien ons die dag is verby. As jy in daardie stroom is, is jy besig met iets wat reg is vir jou.

Lees ook: Wat veroorsaak jou nagmerries?

2. Wat dink ander mense kan jy werklik goed doen/waaroor kom vra hulle hulp/raad by jou?

Ons ken onsself dikwels nie regtig nie. En ander kan ons sterkpunte en goeie eienskappe beter raaksien as onsself. Wanneer mense vrywillig na ons toe kom vir advies oor iets, het hulle opgemerk dat ons dit goed doen. Hierdie vraag kan jou dus help om verborge sterkpunte en talente te verstaan wat ander raaksien, van hou en jou moontlik voor sou betaal.

Thembelihle Seruto, Johannesburg:

1. Wat doen ek die graagste?

2. Wat gee my die meeste plesier?

3. As geld nie ’n kwessie was nie en ek nie besig was om van my huidige probleme af weg te hardloop nie, waarheen sou ek my haas?

Dit wil sê, as geld, tyd, beperkings en vrees nie ’n probleem was nie, wat sou jy op hierdie oomblik gedoen het?

Eintlik weet die meeste mense nie eens hoe om bogenoemde vrae te beantwoord nie. Die meeste mense is so gewoond daaraan om te weet wat hulle nié wil hê nie, dat hulle nie ’n benul het van dit wat hulle regtig wíl hê nie.

Boonop is daar ook redes waarom jy hou van die dinge waarvan jy hou, en hoekom dit jou soveel vreugde verskaf. Dit is in jou DNS gekodeer. Die dinge waarvan jy die meeste hou, is tekens van dit wat jou doel op aarde is. Dit slaan terug op die ou gesegde: Volg jou hart. Dit is waar woorde. Dit wat jou die meeste vreugde bied, is eintlik ’n aanduiding van die rigting wat jy moet volg om uit te vind wat jy (volgende) op hierdie planeet moet doen.

’n Klein geheimpie: Die doel van elkeen se lewe is om die meeste vreugde in sy/haar eie hart te bring. Wanneer jy dus gelukkig is en dit uitleef, bring jy die meeste vreugde aan almal om jou.

Sjaan Wilkinson, Kaapstad:

1. Hoekom wil jy jou ware doel vind?

Dit kan jou help om uit te vind wat skort as dit enigiets in jou huidige situasie is en dit kan enige moontlike leemte uitlig, byvoorbeeld as jy nie vervuld voel in jou werk nie of as jy nie ’n behoorlike verskil in jou gemeenskap maak nie. As jy nadink oor die rede waarom jy jou ware doel wil vasstel, kan jy moontlik uitvind hoe sterk jou begeerte is om dit te bepaal en of jy nie miskien reeds jou ware doel in ’n mate uitleef nie.

2. Waaroor dagdroom jy?

Ons is dikwels ontspanne wanneer ons dagdroom en ons gedagtes is vry van bekommernis en vrees. Dit is wanneer jy in jou verbeelding ’n boek skryf, daardie vakansie geniet of behoeftiges help. Dit waaroor jy fantaseer, kan jou in die rigting van jou doel stuur. Skryf hierdie gedagtes neer; dan kan jy begin om helderheid te kry en te beplan oor hoe jy te werk moet gaan om jou ware lewensdoel vas te stel.

3. Wie inspireer jou en hoekom?

Wat is dit omtrent die persoon wat jy bewonder? Baie van ons het rolmodelle na wie ons opsien en wat ons respekteer, en deur hulle bloot te sien of te lees oor dit wat hulle gedoen of gesê het, voel ons goed. Die karaktertrekke van daardie rolmodelle en dit wat hulle sê of doen, kan ons ook na dieselfde doel laat streef en dit sal ons help om ons ware doel vas te stel. As jy kan uitvind hoe jou rolmodel sy/haar doel vasgestel het en die mens geword het wat hy/sy is, kan dit jou help op jou eie reis.

4. Wat doen jy in jou vrye tyd?

Wanneer al jou werk en sleurwerkies klaar gedoen is, wat doen jy wat jy werklik geniet? Waarheen gaan jy en waaraan bestee jy die meeste tyd en/of geld? Waarop kan jy ’n hele ruk lank konsentreer en werklik vasgevang word daardeur, en waaroor praat jy die meeste in jou vrye tyd? As jy jou dit afvra, kan dit baie help om jou doel te bepaal.

Lees ook: Hoekom maak jy jou oë toe as jy soen?

Vra vriende of familie moet jou sê waarmee jy besig is wanneer jy op jou gelukkigste lyk. Ander mense merk soms dinge oor ons op waarvan ons self onbewus is. Terugvoer van die meeste naaste aan jou, kan baie waardevol wees. Vra hulle of hulle dink dat jy jou roeping uitleef en let op jou reaksie op hul antwoord. Jy sal voel wanneer jy met hulle saamstem.

Nokubonga Mbanga, Johannesburg:

Nokubonga stel voor dat jy vir jou vrae afvra wat betrekking het op dit wat jou sal help om jou doel, bekwaamhede en hoogste moontlikhede te bepaal.

1. Definieer en skakel met my

  • Wie is ek?
  • Wat is my passies en begeertes?
  • Wat is my waardes?

2. My Moontlikhede

  • Wat is my sterkpunte?
  • Watter talente het ek?
  • Wat geniet ek aangaande my werk/belangstellings?
  • Hou ek van dit wat ek tans daagliks/gereeld doen? Die persoon kan eerstens ’n lys opstel van dit wat sy gereeld doen en dan nog ’n lys van dit waarvan sy hou (en wat haar laat floreer), en die lyste vergelyk. Hoe groter die gaping, hoe nodiger dat hy/sy met sy/haar HOEKOM? in aanvoeling kom.

3. My hoogste moontlikhede

  • Wat is vandag die waarheid oor my dit wat my op 40/60/80 jaar trots sal maak op myself?
  • Hoe kan ek die wêreld beter dien?
  • Hoe kan ek my talente uitdruk en dit met die wêreld deel?
  • Wat is my boodskap aan die wêreld?

Die eerste twee vrae help met die beantwoording van vraag 3, want jy kan jou plek in die wêreld/heelal beter begryp as jy verstaan wie jy is en wat vir jou saak maak. Die volgende stap sal dan wees om uit te werk waar jy jou bevind ten opsigte van waar jy graag wil wees en hoe jy die wêreld wil dien.

Om ’n slim en realistiese plan van aksie op te stel sal jou nader aan jou doel bring.

– Samantha Luiz