Enigiemand wat aan skeelhoofpyne ly, weet hoe uitmergelend dit kan wees. 'n Migraine is allesbehalwe 'n ‘slegte hoofpyn’, want dit kan veroorsaak dat jy aan die bed gekluister word in ’n donker kamer of ontsettend mislik voel.

Hoewel dit 'n algemene kwaal is wat een uit vyf vroue en een uit 15 mans aantas, weet almal nie dat die kos wat jy eet ’n ernstige uitwerking op 'n skeelhoofpyn kan uitoefen nie.

Om maaltye oor te slaan kan selfs 'n groter sneller wees in die geval van vroue, maar daar is ’n klompie soorte voedsel en drank waarmee jy liewer moet versigtig wees.

Alkohol: dit behoort nie ’n wonder te wees nie, as jy in ag neem dat te veel daarvan kan lei tot ’n kwaai hoofpyn in die vorm van ’n babbelaas.

Vir migrainelyers kan alkohol, veral rooiwyn, ’n algemene sneller wees. Die redes hiervoor is nie bevestig nie, maar sommige navorsers reken dat dit te doene het met die samestellings in wyn, soos byvoorbeeld tannien en flavonoïdes.

Nog 'n rede waarom jy dit stadig moet neem as jy drink, is omdat dit ontwatering veroorsaak en dit kan op sy beurt tot 'n kwaai hoofpyn lei.

Kaas: Veral verouderde variëteite, soos cheddar, gorgonzola en camembert, behoort vermy te word. Die rede hiervoor is dat navorsing toon dat hierdie ryk, smaaklike kaassoorte samestellings, wat bekend staan as tiramien, bevat, en hulle kan in wisselwerking wees met die neuro-oordraers in die liggaam, en dit kan lei tot 'n migraine.

Gerookte en verwerkte vleissoorte: Sit neer daardie worsbroodjie en gee pad van die snye kalkoen af, want hierdie vleissoorte kan tot mislikheid lei. Die verwerkings- en rokingsproses wat hulle deurgaan, beteken dat hulle bygevoegde preserveermiddels, soos natriumnitraat, bevat en wetenskaplikes beweer dat dit die chemikalieë in jou brein kan verander en sodoende skeelhoofpyne kan veroorsaak.

Aspartamien: Dit is ’n kunsmatige versoeter wat in verpakte voedselsoorte en dieetdrankies, graankos en poedings kan voorkom.

“Dit is een van die eerste dinge wat ek my pasiënte aanraai om uit hul diëte uit te laat,” het Louise Klebanoff, MD, 'n neuroloog by die Hoofpynsentrum van die Weill Cornell- Mediese Kollege in New York, aan die tydskrif TIME gesê.

Neute: Gewoonlik is neute ’n gesonde happie, maar beslis nie die beste keuse vir mense wat aan migraines ly nie.

“Ek raai mense aan om hul diëte dop te hou, maar hulle moenie obsessief wees nie,” het sy bygevoeg. “As jy elke keer binne vier tot 12 uur nadat jy ’n handvol neute geëet het, hoofpyn kry, is dit heel moontlik 'n sneller.”

© Cover Media