Ons is wysgemaak koolhidrate is sleg vir jou en jy moet dit vermy as jy skraal wil bly.

As daar egter waarde geheg kan word aan stories uit 2015, behoort ons dit nader te trek, aangesien dit verbind word met die opkikkering van breinkrag en ’n langer lewensverwagting.

Elke koolhidraat sal nie wondere verrig nie, maar daar is ’n klompie waaraan jy gerus kan weglê sonder om skuldig te voel.

Aartappels

Moenie die nederige wit aartappel eenkant toe stoot nie. As dit gekook is en afgekoel het, word sommige van die styselmolekules weerstandig.

Hierdie soort stysel verander nie in glukose nie. Trouens, dit reageer as probiotiese vesel en die spysverteringstelsel kan daarby baat vind.

Gooi gerus volgende keer as jy ’n slaai inpak om werk toe te neem, ’n paar koue baba-aartappels by – hoe langer dit koud is, hoe laer is die koolhidraatinhoud.

Patats

Patats bevat ’n bietjie meer kilojoules en suiker as aartappels, maar dit is ook vol voedingstowwe soos vitamien C, kalium en antioksidante.

Boonop het dit hoë vlakke van vesel en ’n lae GI, dus is dit die volmaakte toevoeging tot enige maaltyd.

Skorsies

Aangesien patats die lysie haal, is dit nie vreemd dat winterskorsies as nog ’n gesonde bron van koolhidrate beskou word nie.

Dit bevat ongeveer die helfte minder kilojoules as hul aartappel-eweknieë, dus het jy geen rede om dit nie te rooster en dan in ’n heerlike sop te omtower nie.

Lensies

Dit werk volmaak in slaaie, sop en stowegeregte, en met soveel verskillende keuses, kan jy lensies by feitlik enige gereg voeg.

Dit is ’n bekende feit dat dit hoë vlakke van vesel en proteïen bevat wat help om jou kos teen ’n goeie pas te laat verteer en dit sal jou bowendien vir ’n langer tyd versadig laat voel.

Witrys

Baie van ons skuif dit eenkant toe in ruil vir onverfynde rys, maar ons behoort dit nie te doen nie. Bruinrys is vol fitiensuur wat met boustowwe in jou spysverteringskanaal verbind en absorbering bemoeilik.

Soos in die geval van aartappels, behoort jy dit effens te laat afkoel voor dit geëet word, want hierdie proses help ook met die vorming van weerstandbiedende stysel.

© Cover Media