Navorsers by die sielkunde-evalueringsentrum van die algemene hospitaal in Massachusetts het bevind mense met ’n ligte kognitiewe gestremdheid (LKG), die stadium wat algehele Alzheimersiekte voorafgaan, praat meer deurmekaar.

Janet Cohen Sherman, kliniese direkteur van die sentrum, het by die Amerikaanse Vereniging vir die Bevordering van Wetenskap in Boston oor die bevindings gesels. Sy het gesê al is Alzheimersiekte ongeneeslik, kan dit beter behandel word as dit vroeg opgespoor word.

“Een van die grootste uitdagings is die baie vroeë opsporing van die veranderings, wanneer dit nog skaars opmerklik is, en om dit te onderskei van die gewone veranderings wat veroudering meebring,” het Janet bygevoeg.

Navorsers het die taalvermoë van 22 gesonde jong mense, 24 gesonde ouer mense en 22 mense met LKG vir die studie vergelyk.

Deelnemers het drie eenvoudige woorde gekry, byvoorbeeld “stoof”, “water” en “pot”, en is gevra om ’n sin daarmee te maak. Die gesonde deelnemers het die drie woorde doodgewoon in ’n eenvoudige, bondige sin gebruik, maar die LKG-lyers het gesukkel.

“Hulle was aansienlik minder bondig wat die oordra van inligting betref. Hul sinne was langer, hulle het dit moeilik gevind om by die punt te bly en ek dink ’n mens sou kon sê hulle het ’n groot omhaal van woorde gebruik om hul boodskap oor te dra,” het Janet gesê. “Daar was ’n beduidende verskil.

“LKG-lyers was geneig om die pad byster te raak. Hulle het ook meer gesukkel om die drie woorde te onthou en met mekaar in verband te bring.”

Die span is aangespoor deur studies wat op gegrond is op beroemde Alzheimerlyers, soos die Britse skrywer Agatha Christie en oudpres. Ronald Reagan van Amerika.

Een van die studies het ’n vergelyking getref tussen Ronald en oudpres. George W. Bush se taalgebruik op mediakonferensies gedurende hul ampstermyn.

“Ronald het mettertyd ál minder nuwe woorde gebruik en stellings herhaal, terwyl George (wat min of meer dieselfde ouderdom was) dit nie gedoen het nie,” het Janet verduidelik.

“Ronald het meer vullers, meer leë frases, soos ‘ding’, iets, ‘basies’, ‘eintlik’ of ‘wel’ – meer niksseggende woorde – in sy toesprake begin gebruik.”

Alzheimers is op 83 by Ronald gediagnoseer – ses jaar nadat hy afgetree het.

Volgens Janet wil die span hul bevindings omskep in ’n toets om voorlopers van Alzheimersiekte op te spoor.

“Baie mense is langdradig; dis nie ’n rede tot kommer nie. Jy moet bekommerd raak as jy skielik nie meer doeltreffend kan kommunikeer nie.”

Bronne: MailOnline, guardian.co.uk, telegraph.co.uk