As jy saans sukkel om aan die slaap te raak, kan daar ’n eenvoudige oplossing wees om jou slapeloosheid hok te slaan.

Niks is erger as om elke nag ure lank in jou bed rond te rol en te probeer uitwerk hoe lank jy nou al sukkel om aan die slaap te raak nie – of om te besef hoe naby die dag al is nie. Kafeïen, stres en ooreet is almal dinge wat in die verlede as die sondebokke vir slapeloosheid beskou is, maar daar kan ander, meer ongewone oorsake wees. Dink in die eerste plek aan jou gewone slaaptydroetine. Is jy elke aand ure lank in die badkamer besig om jou grimering te verwyder en jou tande te borsel? Indien wel, moet jy dalk ’n paar veranderinge aanbring. Russell Foster, professor in sirkadiese neurowetenskap, glo dat helder badkamerligte miskien ons liggaam kan wakker maak net voor ons probeer rus.

Selfs jou gewone mentgeurige tandepasta kan jou rustyd beïnvloed

“Dit is baie ontwrigtend,” het hy aan die Daily Telegraph in Brittanje gesê. “Ek dink nogal dikwels iemand behoort ’n lig vir die badkamerspieël te ontwerp wat ’n ander verstelling het vir die aand.”

Die wetenskaplike van Oxford het ook voorgestel jy borsel jou tande saans in die donker borsel om makliker te kan insluimer.

Selfs jou gewone mentgeurige tandepasta kan jou rustyd beïnvloed. Peperment is ’n verfrissende geur en tydens een studie in die VK is bevind mense wat dit ingeasem het, baie minder lomerig gevoel het as dié wat dit nie gedoen het nie. Dit sou dalk die moeite werd wees om tandepasta met subtieler geur te soek, eerder as om die borselry heeltemal te los.

Navorsers aan die Universiteit van Göteborg in Swede beweer die volmaan kan ook jou slaap in die war stuur. Dit lyk asof mense tydens hierdie maansiklus gemiddeld 20 minute minder slaap inkry en ons interne biologiese horlosie moet blykbaar die skuld hiervoor kry.

Ons weet almal elektroniese toestelle soos televisiestelle, selfone en tablette kan ons vermoë kelder om aan die slaap te raak, maar wat van die soort program waarna jy kyk? Dramas met ’n vinnige pas kan jou gedagtes op hol laat raak en mense vind dat hulle saans nog ure lank aan intriges dink pleks van aan die slaap te raak.

Die kundiges beveel aan jy ontspan met ’n ligte sitkom of komedie voor jy gaan slaap.

© Cover Media