Soos die geval is met heelwat aspekte van die moderne lewe is dit egter maklik om wat ons weet tot ons algemene welstand sal bydra, te ignoreer.

Onlangse navorsing wat deur die Stigting vir Geestesgesondheid uitgereik is vir die bewusmakingsweek vir geestesgesondheid (16-22 Mei) toon mense beskou die volhouding van gesonde verhoudings as die belangrikste faktor ten opsigte van hul welstand – selfs belangriker as gesonde eetgewoontes, oefening of die vermyding van negatiewe gewoontes soos rook.

Altesaam 46 persent van die 2 000 volwassenes in Brittanje wat aan die navorsing deelgeneem het, het erken hulle is spyt hulle het nie meer tyd in hul verhoudings belê nie – ’n syfer wat ’n kommerwekkende 50 persent by mans haal.

As deel van hul gids tot die belegging in verhoudings, noem die Stigting vir Geestesgesondheid verskeie sleutelmaniere waarop mense eensaamheid kan vermy en meer ondersteunende verhoudings kan skep om die gees, en die liggaam, te beskerm.

Gee tyd

Wend pogings aan om, waar moontlik, tyd in te ruim om met familie en vriende in verbinding te tree.

Wees daar

Jy kan in die versoeking kom om jou foon, sosialemedia-boodskappe of werkverwante e-posse na te gaan terwyl jy tyd saam met familie en vriende deurbring. Probeer om op daardie oomblik daar te wees vir jou geliefdes deur jou foon of rekenaar af te skakel.

Luister

Luister op ’n nie-veroordelende manier na wat die ander mense sê en fokus op hul behoeftes op daardie oomblik.

Sorg dat mense na jou luister

Deel wat jy voel op ’n eerlike wyse en laat toe dat mense na jou luister en jy gesteun word.

Sien ongesonde verhoudings raak

Die geselskap van positiewe mense kan ons gelukkiger laat voel. Ons welstand kan egter negatief beïnvloed word deur skadelike verhoudings wat ons moedeloos laat voel. As ons dit kan raaksien, kan ons met ons lewe voortgaan en oplossings vir probleme soek.

Neem jou besluit ten opsigte van verhoudings

Die Stigting vir Geestesgesondheid moedig mense aan om nou ’n positiewe besluit te neem ten opsigte van verhoudings.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot.com:

Vrou vertel openhartig van haar lewe ná sy tydens gewapende roofrog geskiet, verlam is

Kyk net wat gebeur as vier mans hoëhakskoene ’n dag lank dra!

Jongmense, dit is waarom jy vandag al moet begin spaar

’n Maklike manier om alkohol vaarwel toe te roep

Dis winter, dit is hoe jy seker maak jou geiser trotseer die koue