In ’n onlangse studie is bevind dat sommige groentesoorte baie meer vetmakend is as ander, met suikermielies boaan die lys.

Navorsers aan die Harvard-universiteit beskou ook ertjies as ’n groentesoort waarvoor mense wat op dieet is maar katvoet moet loop, en dit is nie ’n wonder dat aartappels nommer drie op die lysie haal nie. Daar word voorgestel dat jy hulle moet verruil vir bruinrys of volgraanbrood.

Daar is darem nie net slegte nuus nie. Bloubessies, blomkool en pruime is aan die ander kant van die spektrum.

Die diëte van 130 000 Amerikaners is in aanmerking geneem, en elke mens moes vir 24 jaar elke vier jaar omvattende vrae beantwoord. Hulle is ook geweeg en ander lewenstylfaktore, soos rook- en oefenvlakke, is ook in ag geneem.

In hierdie studie is bevind dat meer vrugte en groente in die dieet gewigsverlies bevorder, met vrugte in topposisie. Vir elke ekstra porsie vrugte per dag het die mens 250 g vet in vier jaar verloor.

?Hoewel die omvang van die gewigsverlies wat deur die daaglikse porsies meegebring word, maar beskeie is, sal ’n kombinasie van een tot twee ekstra porsies groente plus een of twee ekstra porsies vrugte ’n aansienlike verandering teweegbring,” het die navorser Monica Bertoia in die tydskrif PLOS Medicine geskryf.

Bloubessies is heel boaan die lys, met een ekstra porsie per dag gekoppel aan die verlies van byna 680 g in vier jaar. Kool volg kort op die hakke van bloubessies, en appels en pere dra ook by tot die verlies van meer as 500 g.

Aarbeie en druiwe het ook goed gevaar, hoewel die rede hiervoor nie heeltemal duidelik is nie. Dit is gedeeltelik te wyte daaraan dat hulle as plaasvervangers vir nagereg gebruik kan word, en dus help om die kilojoules te verlaag. Hulle bevat ook baie polifenole, wat help met die liggaam se metabolisme en die manier waarop dit suiker verwerk.

Benewens die groente- en vrugtesoorte hierbo genoem, was kool, uie en perskes ook aan die bokant van die spektrum. Seldery, wat lank reeds voorgehou word as heilsaam vir mense op dieet, het hier ook nie so goed gevaar nie. Dit sal ’n verlies van 150 g teweegbring, wat ’n skok sal wees vir diegene wat die ouvroustorie glo dit die spekkies laat wegsmelt as jy aan seldery kou, want die liggaam gebruik meer energie om dit te verteer as wat dit uit die seldery kry.

© Cover Media