Die lewe op aarde is onmoontlik sonder die son. Maar die son se ultravioletstrale kan ook melanoom, 'n ernstige, aggressiewe en potensieel dodelike vorm van kanker, veroorsaak. Hier is 'n paar eenvoudige reëls wat jou sal help om dit te vermy of vroeg op te spoor

Deur David Moseley

DIE SON kan nou wel vir jou 'n gesonde sonbruin gee, maar te veel van dié goeie ding kan ook jou doodsteek wees.

Jou vel is jou grootste orgaan en sy doel is om jou andersins weerlose liggaam te pantser, maar dié dun, beskermende lagie is self baie kwesbaar.

Velkanker is die algemeenste vorm van kanker in Suid-Afrika. Dit is gelukkig ook die maklikste om te voorkom. Wat presies melanome (kwaadaardige moesies wat tot die dodelikste vorm van velkanker lei) veroorsaak, is nie duidelik nie.

Maar party feite is onweerlegbaar: Oormatige blootstelling aan ultravioletbestraling deur die son en sonbeddens verhoog jou risiko om melanoom te ontwikkel.

Saam met Texas en Australië het Suid-Afrika die wêreld se hoogste voorkoms van velkanker. Jaarliks word by ons byna 10 000 nuwe gevalle gediagnoseer.

Party mense neig meer daartoe om melanoom te ontwikkel as ander. "Die mense wat die grootste risiko loop, is 'sonvergrypers'. Hulle bly vir die grootste gedeelte van die jaar uit die son en braai hulle dan op een slag gaar," sê dr. Ilsa Orrey, 'n dermatoloog van Constantiaberg-MediClinic in Kaapstad.

Net een ernstige sonbrand op enige ouderdom kan jou risiko om later kanker te kry, verhoog. Ilse sê nog risikofaktore is 'n familiegeskiedenis van velkanker en 'n oorerflike neiging tot displastiese nevus- sindroom (moesies staan medies as nevi bekend).

Dit beteken dat jy baie ongewone moesies het wat groter as die gemiddeld is en 'n oneweredige vorm het. Dié moesies het 'n groter kans om kwaadaardig te raak.

Hoe hoog is jóú risiko vir melanoom?

1. Het jy 'n ligte vel, ligte hare en oë, of brand jy maklik wanneer jy in die son kom?

2. Het jy by geboorte groot, bruin moesies gehad?

3. Is jou moesies opvallend anders (groter as 0,5 mm, oneweredig of verskil in kleur)?

4. Het jy meer as vyftig gewone moesies?

5. Het jy 'n geskiedenis van kwaai sonbrand, veral toe jy as tweejarige poedelkaal buite rondgehardloop het, of in jou tienerjare?

6. Bring jy baie tyd buite deur as gevolg van jou werk of sport? Is jy 'n boer, visserman, ingenieur, geoloog, 'n krieket-, gholf- of tennisspeler, of hou jy net daarvan om bedags baie tyd buite deur te bring?

7. As jou antwoord op net één van hierdie vrae ''ja'' is, moet jy 'n ekstra waaksame ogie hou oor enige oënskynlik spontane velveranderings.

VELSOORTE

Daar is verskeie soorte velle, met verskillende grade van vatbaarheid vir die ontwikkeling van melanoom.

Hierdie veltipes word van nul tot ses gegradeer – nul tot drie loop die hoogste risiko; vier tot ses het 'n kleiner kans op velkanker.

TIPE 0

Albino-vel:

TIPE 1

Dié mense het 'n wit vel en gewoonlik rooi hare en sproete. Hulle kry altyd sonbrand en word nooit bruin nie.

TIPE 2

'n Wit vel wat gewoonlik brand, maar tog bruin word.

TIPE 3

'n Wit vel wat partykeer brand, maar altyd bruin word.

TIPE 4

'n Mediterreense tipe vel.

TIPE 5

'n Asiatiese vel.

TIPE 6

'n Swart vel. Dit kan volgens dr. Ilsa Orrey wél melanome ontwikkel, maar dis ongewoon onder swart Suid-Afrikaners.

Daar is wel 'n toename in melanome onder donker Weskusvissermanne, wat wys dat melanoom nie uitsluitend onder tipes 1 – 3 voorkom nie.

Keer betyds

JY MOET deurentyd teen sonbrand waak. Melanome maak hul verskyning nes verkeersboetes in die pos: skielik op 'n dag met min of geen waarskuwing nie. En hulle groei nie noodwendig uit bestaande moesies op jou liggaam nie. Dié onderduimse klein vabonde kan nes 'n ongewenste tuinmol enige tyd en op enige plek opduik.

Baie mense kry melanoom op hul rug, kop of nek, aan die onderkant van hul bene of op plekke wat nooit aan die son blootgestel word nie.

"Jy voel glad nie siek nie", sê Ilsa. "Die meeste gevalle word gediagnoseer wanneer pasiënte nog heel onbewus van enige kwaadaardigheid in hul liggaam is." Die goeie nuus is dat mits dit betyds gediagnoseer word, melanoom gewoonlik nie dodelik is nie. Die gewraakte letsel word vinnig ná die diagnose verwyder, en, afhangende van die grootte van die "indringer", het jy 'n taamlike goeie kans op oorlewing. Maar as die letsel selfs net 1,5mmin jou vel ingedring het, is jou oorlewingskanse op die lang termyn maar redelik skraal.

Die volgende oorlewingsuitkomste is op Australiese tienjaaroorlewingsyfers gegrond:

• Indien die melanoom nie dieper as 0,75mmin jou vel ingedring het nie, kan jou kanse op oorlewing 98 uit honderd wees.

• Indien die melanoom dieper as 1,5mmingedring, is jou kans een uit tien dat jy nie langer as tien jaar sal oorleef nie.

Ál meer gevalle van melanoom word vroeër gediagnoseer as gevolg van beter opsporingsmetodes en groter bewustheid, sê Ilsa.

Dis bykans onmoontlik om jou hele liggaam vir melanome te ondersoek en selfdiagnose kan partykeer tot onnodige paniek lei. Daar's 'n paar algemene foute wat mense begaan wanneer hulle hulself ondersoek. Geïrriteerde, opgehewe moesies, ouderdomsvratte (dit word deesdae seboreïese keratose genoem en word veroorsaak deur druk op die vel, maar dis eintlik net skadelose velletsels) en bloeding onder die vel kan alles soos melanome lyk.

Die eerste teken van 'n melanoom is 'n verandering in die grootte, vorm, kleur of gevoel van 'n bestaande moesie. Die meeste melanome het 'n swart of blouswart area en kan"lelik" lyk. Melanome kan ook in die vorm van 'n nuwe moesie verskyn. Die letters ABCD in die tabel op die volgende bladsy sal jou help onthou waarvoor jy op die uitkyk moet wees.

JOU ABCD-GIDS

A(ASYMMETRY) Wees op die uitkyk vir moesies met onreëlmatige vorms. As die een helfte van die moesie anders lyk as die ander een, kan dit moeilikheid beteken. Simmetriese moesies is gewoonlik nie 'n probleem nie.

B(BORDER) staan vir buitengewone omlyning. Let op moesies met 'n oneweredige, gekerfde of getande rand, of opgehewe riffels – die algemeenste kenmerke van melanome. As die omlyning skerp en goed gedefinieer is, is dit 'n goeie teken. As dit met die omliggende vel saamsmelt, is dit 'n slegte teken.

C(COLOUR) Dit dui op kleurveranderinge, van lig tot donker, of wit tot ligpienk. Let op groeisels met baie kleure of 'n onreëlmatige kleurverspreiding. As jou moesie swart is of meer as een kleur het, laat dit ondersoek.

Wees ook op die uitkyk vir 'n letsel wat afdop, gesond word en dan weer afdop – dit gaan gewoonlik gepaard met 'n grofheid wat jy eerder kan voel as sien – of 'n letsel met 'n sweer in die middel wat nie gesond word nie, of 'n letsel wat skielik weer sy verskyning maak. Hierdie growwe letsels jeuk ook partykeer.

D(DIAMETER) Let op 'n moesie wat groter as ongeveer 5 mm in deursnee is en begin groei – dis so klein soos die uitveër bo-op 'n potlood.

"In 'n neutedop: Wees op die uitkyk vir enige verandering aan 'n moesie op jou vel en enige letsel wat sy verskyning maak en nie normaal genees nie," sê Peter Hers, 'n melanoomlyer en aktivis van Johannesburg. "Jy sal gou weet hoe 'ouderdomsvratte' lyk, die dinge wat jy maar kan ignoreer en dít wat jy deur jou huisdokter of dermatoloog moet laat ondersoek."

SonSlim-WENKE

Dinge wat jy moet doen:

(Van die Kankervereniging van SA se SonSlimveldtog)

'n Gereelde aanwending van sonskermmiddel met 'n sonbeskermingsfaktor (SBF, in Engels SPF) van minstens vyftien in die eerste agttien jaar van jou lewe kan die risiko vir sekere soorte velkanker met meer as 75 persent verlaag. Hou aan om dit aan te wend, selfs al is jy ouer as agttien.

Dra klere! Beskerm jou vel – jou nek, arms, romp en bene – teen die son.

• Dra 'n hoed (nie 'n pet nie) wat jou nek en gesig beskerm.

Bly in die skaduwee en bly koel.

Vermy regstreekse blootstelling aan die son tussen soggens tienuur en smiddae drieuur.

Beskerm jou en jou kinders se oë teen ultravioletstrale. Koop vir jou kind 'n sonbril met minstens 400 UV-straalbeskerming. Moenie babas wat jonger as een jaar is aan direkte sonlig blootstel nie.

Ultravioletstrale dring deur glas en water – beskerm dus jou vel wanneer jy ry, swem of met 'n snorkel duik.

HOE OM JOU VEL TE ONDERSOEK

Die beste tyd om 'n selfondersoek te doen, is ná 'n stort of bad. Ondersoek jou vel in 'n helder verligte kamer en gebruik 'n handspieël.

Die beste metode is om eers te kyk presies waar jou geboortemerke, moesies en vlekke is en hoe hulle gewoonlik lyk en voel.

Ondersoek jou van kop tot tone. Moenie vergeet om oral te kyk nie, insluitende jou rug, kopvel, tussen jou boude en jou geslagsdele.

1. Kyk na jou gesig, nek, ore en kopvel. Jy kan 'n kam of haardroër gebruik om jou hare uit die pad te kry sodat jy beter kan sien. Miskien kan jy 'n gesinslid of vriend vra om jou kopvel te ondersoek omdat dit moeilik is om self te doen.

2. Kyk in die spieël na die voorkant en agterkant van jou liggaam, lig jou arms op en kyk na jou linkersy en jou regtersy.

3. Buig jou elmboë en kyk noukeurig na jou vingernaels, handpalms, voorarms (ook die onderkante) en bo-arms.

4. Ondersoek jou bene van voor, van agter en langs die kante. Kyk ook tussen jou boude en om jou geslagsdele.

5. Gaan sit en ondersoek jou voete, insluitende jou toonnaels, voetsole en die plekkies tussen jou tone noukeurig.

As jy jou vel gereeld ondersoek, sal jy vertroud raak met dít wat vir jou normaal is. As jy enigiets ongewoon oplet, gaan dadelik dokter toe.

DIE son se onsigbare ultravioletstrale (UV) is veral gevaarlik. Daar is UV-A-, UV-B- en UVC- strale. Hulle sny die DNS in die velselle soos kettingsae en vernietig die boustene van die selle.

Die gevolg is plooie en velveroudering. As die liggaam nie meer die voortdurende herstelproses kan volhou nie, vorm die vernietigde DNS onder die oppervlak van die vel kankerselle wat enige plek op die vel te voorskyn kan kom.

UV-A-strale is die strale wat jou laat bruin word.

Hierdie strale word nie deur die wolke versper nie en is dwarsdeur die dag gevaarlik. Hulle dring diep in die vel in en veroorsaak ernstige skade aan die dieper vellae, selfs voordat jou vel begin rooi word.

Dís die strale wat langtermynskade soos plooie, los vel en velverkleuring veroorsaak – wat sonbeskerming een van die beste beskermingsmaatreëls teen plooie maak.

UV-A-strale baan ook die weg vir velkanker en word aan melanoom van die oog gekoppel. Nie alle sonskermmiddels beskerm jou teen skade wat deur UV-A-strale veroorsaak word nie.

Maak dus seker jou sonskermmiddel bied beskerming daarteen deur te kyk wat op die pakkie geskryf is.

UV-B-strale veroorsaak rooiheid en maak jou vel in 'n mate bruin. Dis die UV-B-strale wat die pyn, inflammasie en rooiheid veroorsaak wat as sonbrand bekendstaan.

Dié soort skade kan binne nét vyftien minute aangerig word en kan vir tot drie dae nadat jy aan die son blootgestel is, verder ontwikkel. Sowel UV-A as UV-B- strale kan deur dik glas, 'n meter water en nat katoenklere dring.

UV-C-strale is dodelik. Gelukkig word die meeste hiervan steeds geabsorbeer deur die osoonlaag wat ons teen vel- en ander soorte kanker beskerm.

WAT'S JOU RISIKO?

As jy meer as 50 gewone moesies het, het jy 'n hoër risiko vir melanoom.

HET JY GEWEET?

Sonbeddens en sonlampe straal UV-A-strale uit en is onveilig. 'n Sweispyp straal ook gevaarlike UV-A-strale uit.

Slip, Slop, Slap

(Trek aan, smeer aan, sit op)

Suid-Afrika se SonSlim-veldtog en Australië se 'Slip, Slop, Slap'-veldtog om mense van velkanker bewus te maak, het albei dieselfde boodskap: Slip on a shirt, slop on sunscreen and slap on a hat.

SELFS EEN KEER IS TE VEEL!

'n Enkele kwaai dosis sonbrand in jou kinderjare (of later) kan onomkeerbare velskade aanrig en jou risiko verdubbel om later in jou lewe velkanker te kry. Pasop, julle naweeksonbaaiers!

Jul risiko vir melanoom is groter as wat julle dink. Elke blootstelling tel, en lang en gereelde blootstelling aan die son verhoog jou risiko aansienlik, aangesien die skade kumulatief is en voortbou op ou skade.

Boere, krieketspelers, gholfspelers en ander mense wat lank en gereeld aan die son blootgestel word, het 'n groter risiko om die ander twee minder ernstige vorms van velkanker te kry.

Reken dit by

Gebruik 'n sonskermmiddel met 'n sonbe- skermingsfaktor (SBF) van minstens 15+ op jou lyf en minstens 30+ op jou gesig.

Die SBF bepaal hoeveel keer langer jy in die son kan bly sonder om te brand teenoor wanneer jy glad nie sonskermmiddel gebruik nie. Smeer altyd jou ore, neus, nek en hande in.

Strooistories

'n Strooihoed het maar net 'n sonbeskermingsfaktor van ongeveer agt, terwyl die beskermende skaduwee van 'n boom jou ongeveer tien bied.

Moesies

Die meeste mense het tussen tien en veertig moesies. Partykeer word 'n mens met hierdie moesies gebore en partykeer verskyn hulle eers later – gewoonlik voor die ouderdom van veertig.

Omtrent een uit elke tien mense het minstens een ongewone moesie wat anders as gewone moesies lyk.

Baie dankie aan die volgende mense vir hul hulp met die artikel: dr. Beverley Summers, sonskerm-deskundige van die Medunsa- PhotoBiology Lab; Peter Hers, 'n melanoomlyer wat baie doen om mense in te lig; en prof. H.F. Jordaan, hoof van die departement dermatologie aan die Universiteit van Stellenbosch en die Tygerberghospitaal in Kaapstad.

Huisgenoot Pols SOMER 2007/2008

Click here to visit our sun centre