Volgens navorsing kan ’n gefuif gedurende swangerskap later in die lewe slaapprobleme by die nageslag veroorsaak.

Baie mense kla oor slapeloosheid en deskundiges wat ’n studie in die VSA gedoen het, het bevind dat alkoholblootstelling in die baarmoeder dit moeiliker kan maak om in jou volwasse jare behoorlik te slaap.

“Ons weet al baie lank onderbroke slaap hou verband met belemmerde kognitiewe funksies en die bepaling van die aandag en emosies,” het die navorser prof. Donald Wilson gesê.

“Ons studie toon vir die eerste keer dat blootstelling aan oormatige alkohol vroeg in die lewe lei tot langdurige onderbreking van die stadige golfslaappatrone, wat weer met leerprobleme verband hou.”

Lees ook: Suiker verjaag Klaas Vakie

In die studie, uitgevoer deur navorsers aan die Universiteit van New York en gepubliseer deur die tydskrif Neuroscience, is muise ’n week ná geboorte met ’n enkeldosis suiwer alkohol ingespuit en toe is hul gedrag bestudeer.

Die hoeveelheid alkohol is gelyk aan dié wat ’n vrou, wat haar gedurende die laaste drie maande van swangerskap aan drank vergryp het, ingekry het.

Die muise het minder stadigegolfslaap gekry – die soort sluimering wat die liggaam herstel en die langtermyngeheue aanhelp.

Die muise het boonop ook aan geheueverlies gely en hulle was geneig tot hiperaktiwiteit.

Hoe minder stadigegolfslaap die muise gekry het, hoe erger het hul geheueprobleme geraak.

Lees ook: Vroue wat min slaap is meer geneig tot Tipe 2-diabetes

Die navorsers glo die studie met muise kan ook relevant wees vir mense, aangesien oormatige drinkery gedurende swangerskap die ontwikkeling van die dele van die fetale brein wat slaap reguleer, kan beïnvloed.

Daar word beweer dat tot een uit elke 100 mense aan fetalealkoholsindroom ly, wat veroorsaak word wanneer die fetus in die baarmoeder aan alkohol blootgestel word.

Simptome van die siekte sluit in probleme met korttermyngeheue, sowel as leerprobleme en hiperaktiwiteit.

Baie deskundiges waarsku teen drank gedurende swangerskap, aangesien alkohol tans in verband gebring word met ’n verhoogde risiko vir geboorteafwykings, doodgebore babas en miskrame.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot.com:

Nuwe etiketreëls vir die digitale era

Basta met kankerbehandeling! 90-jarige inspireer talle met haar verrykende lewensuitkyk, al is sy hoe siek

Jy sal nie glo wat 7de Laan se Altie nou gaan doen nie!

Raaisels van die see: Vissers vind gemummifiseerde Duitser in die middel van die Stille Oseaan

WhatsApp verdwyn eersdaags van sommige selfone

Pa kom met desperate plan vorendag om sy identiese tweeling van mekaar te onderskei