Kinders met ’n slaaptekort het ’n groter kans om later in hul lewe diabetes te kry, toon nuwe navorsing. 

Die teenoorgestelde daarvan kan lei tot tipe 2-diabetes, wat voorkom wanneer die liggaam sukkel om genoeg insulien te vervaardig of nie op insulien reageer nie.

Prof. Christopher Owen van St. George-universiteit in Londen en sy span het 4 525 kinders van nege of 10 jaar se slaapgewoontes bestudeer en die risikofaktore vir die gesondheidstoestand bekyk.

Daar is bevind die kinders het op skoolaande gemiddeld 10,5 uur geslaap, en dié met ’n slaaptekort was meer geneig om oorgewig of vetsugtig te wees en meer liggaamsvet te hê. Hulle was ook meer geneig om insulienweerstandig te wees, wat tot tipe 2-diabetes lei.

“Hierdie bevindings dui daarop dat meer slaaptyd ’n eenvoudige, kostedoeltreffende benadering kan bied tot die vermindering van liggaamsvet en die risiko vir tipe 2-diabetes op ’n vroeë ouderdom,” het Christopher gesê oor die resultate, wat in die joernaal Pediatrics gepubliseer is. 

“Potensiële voordele wat met meer slaaptyd in die kinderjare verband hou, kan ook gesondheid in volwasse jare beïnvloed.” 

Alicja R. Rudnicka, medeskrywer van die studie, sê: “Dit bevestig die verband tussen ’n kort slaaptyd en liggaamsvet. Gegewe die toenemende voorkoms van diabetes wêreldwyd, en veral in lae- tot middelklas-inkomstelande, glo ons die bevindings sal help om eenvoudige, pragmatiese proewe op hierdie gebied te help bevorder.”

Die deelnemers moes self hul slaapgewoontes aan die navorsers rapporteer; dus is die inligting dalk nie akkuraat nie.

Die Amerikaanse akademie vir pediatrie beveel nege tot 12 uur se slaap per aand vir kinders van ses tot 12 jaar aan. Ander faktore, insluitend ’n slegte dieet en onvoldoende oefening, dra ook tot diabetes by.