Die kruks van die betrokke studie is dat mense wat verslank het deur minder kilojoules in te neem – en terselfdertyd ’n rukkie voor elke ’n glas of wat water gedrink het – opvallend meer gewig verloor het as verslankers wat eweneens kilojoule-inname beperk het, maar nie die ekstra water gedrink het nie.

Navorsers het naamlik oorgewig mans en vroue in twee groepe verdeel.

Die eerste groep het 12 weke lank ’n kilojoulebeperkingsdieet gevolg – hulle het dus bloot minder kilojoules ingeneem as wat hulle verbrand het. Die ander groep het dieselfde dieet gevolg, maar meer water as gewoonlik gedrink: 500 ml, ongeveer twee koppies, ’n halfuur voor elkeen van hul drie groot daaglikse maaltye.

Altwee groepe het beduidende hoeveelhede gewig verloor, maar die groep wat meer water voor hul maaltye gedrink het, het nog ’n bykomende twee kilogram meer afgeskud as die eerste groep.

Navorsing het reeds gewys dat water-inname – gewone water, g'n versoeters of geurmiddels of plaasvervangende vloeistowwe soos koeldrank of vrugtesap nie – ’n klein dog beduidende toename in energieverbruik veroorsaak, het prof Amanda Salis van die Universiteit van Sydney onlangs gesê. Daarby het klein proewe ook al getoon dat ’n groot glas water voor ’n maal mense ook bloot minder laat eet. Water drink het dus ’n potensiële dubbele effek – dit kan jou meer kilojoules help verbrand en ook minder laat inneem, aldus Amanda. Gewone water (uiteraard kilojoule-vry) is bloot soveel beter as byvoorbeeld melkerige koffie, koeldranke en veral alkohol, het sy verduidelik.

A photo posted by TommiMaya (@tommimaya) on

Dié goed is ’n groot probleem in terme van sogenaamde “passiewe oormatige kilojoule-inname”, waar jy ’n spul kilojoules drink, dikwels grootliks onbewustelik en sonder dat jy enigsins meer versadig voel (soos met vaste kos). Bloot meer water op sigself is natuurlik nie ’n kitsoplossing vir gewigsprobleme nie, maan sy.

A photo posted by @lleviskji on

Dit kan nie gesond eet en gereeld oefen vervang nie. Maar dit kan wel help met gewigsbestuur. Daarby is dit in elk geval noodsaaklik vir verskeie aspekte van goeie gesondheid; liggaamstemperatuur-regulering, gesonde spysvertering en dies meer. Mense moet ook meer waterryke kosse eet, benadruk kenners soos dr Howard Murad, skrywer van The Water Secret. “Gesonde hidrasie gaan ook oor hoeveel water jy in die liggaam hóu...” Só help groentes soos blaarslaai, komkommer, courgettes en radyse (almal meer as 90% water) jou liggaam water stadiger absorbeer.

A photo posted by @shanecz79 on

Bronne: blogs.plos.org, huffingtonpost.co.au, ncbi.nlm.nih.gov, betterhealth.vic.gov.au, obesity.org

Ook op Huisgenoot.com

Verloor só gewig sonder om enige kos uit te sny

Dis hoe lank kenners meen jy moet verslank om die vetjies vir goed weg te hou

‘Ek leef ’n heel ander lewe van binne’: Man vertel in roerende video van depressie

Tob jy te veel? Slaan dié gewoonte gou-gou hok

Pienk v. blou: Dié kleurfeite gaan sekere gevestigde tradisies op hul kop keer

Met dié 10 kitsoplossings sal jy jou huis lag-lag skoon hou