Volgens die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer en -voorkoming dra tweedehandse rook jaarliks by tot die dood van duisende volwasse nierokers.

“As rook skadelik is vir mense, maak dit sin dat tweedehandse rook ’n nadelige uitwerking kan hê op troeteldiere wat in rokers se huise bly,” sê dr. Carolynn MacAllister, ’n veearts verbonde aan die Oklahoma-staatsuniversiteit in Stillwater, Amerika.

Paws24

Hoe word hulle beïnvloed?

  • Katte “Weens hul versorgingsgewoontes is katte vatbaar vir mondkanker en limfome. Hulle lek die karsinogene wat op hul pels versamel,” sê Carolynn. “Dit stel die mukusmembrane in hul mond aan kankerwekkende gifstowwe bloot.”
  • Honde wat in ’n huis met tweedehandse rook woon, het ’n hoër voorkoms van nasale gewasse as honde wat in ’n rookvrye omgewing woon, sê sy. Daar is ’n hoër voorkoms van longkanker onder honde met korter snoete, soos mopshonde, omdat die nasale holte nie lank genoeg is om die karsinogene uit te filtreer nie. Dit kan die longe dus maklik bereik. Honderasse met langer snoete, soos dalmasiërs, is geneig om nasale kanker te kry omdat die mukusmembrane wat die groot oppervlak binne hul neuse uitvoer die meeste van die giftige molekules vasvang. Minder daarvan bereik dus die longe.
  • Voëls is ook slagoffers van tweedehandse rook. Hul asemhalingstelsel is uiters sensitief vir enige soort besoedelingstof in die lug. Carolynn sê voëls kan longontsteking of longkanker kry weens die blootstelling aan tweedehandse rook. Ander gesondheidsrisiko’s sluit in probleme met hul oë, vel, hart en vrugbaarheid.
  • Visse kan ook nadelig geraak word as die rookdeeltjies in die atmosfeer op die wateroppervlak beland of deur die filtreerder in die water getrek word en die water besoedel. Sigaretstompies wat in ’n visdam beland, kan ook giftig wees omdat hoë vlakke van nikotien en ander gifstowwe sodoende in die water beland.

Nikotienvergiftiging

Nikotien is ook giftig vir troeteldiere. Die algemeenste bron van nikotien is tabakprodukte soos sigarette, sigaretstompies en selfs nikotienkougom en -plakkers. Tussen een en vyf sigarette en tussen ’n derde en een sigaar kan dodelik wees as hulle dit inneem.

Hou dus sigarette, sigaretstompies en ander tabakprodukte buite hul bereik, veral as jy ’n nuuskierige babahond of -kat by die huis het.

Verminder die risiko

Rook, waar moontlik, weg van jou troeteldiere, en as jy in dieselfde gebied as hulle rook, maak seker daar is goeie ventilasie om die hoeveelheid rook te verminder waaraan hulle blootgestel word.

As jy jou troeteldiere gereeld borsel en versorg, help dit om die rookoorblyfsels van hul pels te verwyder. Lugsuiweraars kan ook nuttig wees.

Sommige veeartse beveel vitamien C en ander antioksidante aan om die kankerwekkende gevolge teen te werk. Besoek jou veearts om vas te stel of dit goeie opsies vir jou troeteldier is.

Jy kan dit ook oorweeg om op te hou rook – die geld wat jy gaan spaar, kan gebruik word om jou troeteldier te bederf met iets lekkers om aan te kou of ’n nuwe speelding.

Paws24