Miljoene mense wêreldwyd ly aan verswakkende dermtoestande soos Crohn se siekte, inflammatoriese dermsiekte (IDS) en ulseratiewe kolitis waarvoor daar tans geen kuur is nie.

Maar in ’n nuwe ondersoek onder leiding van die Universiteit van Edinburgh is ’n geen ontdek wat as MDR1 bekendstaan. Dit het betrekking op die liggaam se stelsel wat gifstowwe en ander skadelike stowwe uit selle in die ingewande verwyder.

Die navorsers het bevind IDS-lyers toon verswakte werking van MDR1 as diegene daarsonder. Deur muise te gebruik het hulle toe vasgestel die knaagdiere sonder MDR1 het foutiewe mitochondria, dele van die sel wat deurslaggewend is om selgesondheid in stand te hou.

Die mitochondriese wanfunksie het tot ontsteking van die dermvoering gelei – ’n sleutelkenmerk van IDS.

Die kenners het daarna vasgestel die middel Mitoquinone beskerm die mitochondria teen gifstowwe en verminder sodoende kolitis en help die derms van muise sonder MDR1 herstel.

Dr. Gwo-Tzer Ho, hoofskrywer van die ondersoek en ere-konsultant- gastroënteroloog aan die Universiteit van Edinburgh se MRC Centre for Inflammation Research, verduidelik: “IDS het ’n hoogs nadelige uitwerking op lewensgehalte, en 6 000 nuwe gevalle word jaarliks in Brittanje gediagnoseer.

“Ons het gewys MDR1 en mitochondriese werking is belangrike legkaartstukke in die ingewikkelde oorsake van IDS.

“Ons studies beklemtoon die belangrikheid daarvan om die mitochondria teen skade te beskerm. Dit sal tot nuwe benaderings lei van geneesmiddels wat op die mitochondria fokus en beter behandelings vir pasiënte tot gevolg het.”

Vir die ondersoek het die kenners genetiese data bestudeer van 90 000 mense, van wie 40 000 aan IDS ly.

Die Britse mediese navorsingsraad en Crohn’s and Colitis UK het die navorsing befonds wat aan die Universiteit van Edinburgh en Bristol en in Amerika en Japan uitgevoer is.

– Cover Media