Al kan hartaanvalle en beroertes voorkom word, is hartsiektes wêreldwyd die grootste oorsaak van sterftes. Dis dus duidelik ons doen iets verkeerd. Lees hier waarom mense steeds aan hartaanvalle sterf – en wat jy kan doen om te help voorkom dat dit met jou gebeur.

Deur Kim Arendse

Ons eet nie genoeg vrugte en groente nie.

Dis ’n feit: Mense wat gereeld vars vrugte en groente eet, ly minder aan hartsiektes as dié wat dit by hul dieet uitsluit. Vrugte en groente bevat fitochemikalieë, samestellings in plantaardige kosse wat ons teen baie siektes – ook hartsiektes – beskerm.

Hier is van die vele funksies van fitochemikalieë in ons liggaam:

  • Dit tree op as antioksidante.
  • Dit hou die wande van klein bloedvate gesond.
  • Dit voorkom dat bloedplaatjies klewerig word; hulle hou dus jou bloed dun.
  • Hulle blokkeer sekere ensieme wat die bloeddruk laat styg.

GAAN OOR TOT AKSIE: Probeer elke dag nege porsies vrugte en groente eet.

Ons stap nie genoeg nie.

Die hart is ’n spier, en net soos enige ander spier in die liggaam word dit ál sterker hoe meer jy dit oefen. Sonder oefening verloor dit spierweefsel en verswak dit tot dit nie meer sy werk kan doen nie. Liggaamlike oefening is noodsaaklik, want:

  • Dit versterk die hart sodat dit met minder kloppe meer bloed kan pomp.
  • Dit verlaag die bloeddruk deur die deursnee van die kroonslagare te vergroot.
  • Dit verlaag LDL (laedigtheid-lipoproteïene), die “slegte” cholesterol, en verhoog HDL (hoëdigtheid-lipoproteïene), die “goeie” cholesterol.
  • Dit verminder die risiko vir diabetes. Diabetes verhoog die risiko vir ’n hartaanval.

GAAN TOT AKSIE OOR: Minstens 30 minute van matige liggaamlike oefening, soos ’n flink wandeling, op die meeste dae van die week is genoeg om jou risiko vir ’n hartaanval te verminder.

Ons eet te veel versadigde vette.

Nie alle vette is sleg nie. Ons het vet nodig om ons liggaam behoorlik te laat funksioneer, maar ons neem te veel van die ongesonde soort in.

  • Versadigde vet is die mees soliede van alle vette en is solied by kamertemperatuur. Soliede vette los moeilik op en kan in jou slagare vassit.
  • As jy te veel versadigde vet eet, vervaardig jou lewer te veel cholesterol en het jy op die ou end baie meer as wat jy nodig het.

GAAN TOT AKSIE OOR: Beperk jou inname van versadigde vet tot minder as 10 persent van jou algehele kilojoule-inname per dag.

Ons eet te veel kosse met transvette

Gehidrogeneerde olies, oftewel transvette, word kunsmatig vervaardig deur molekules waterstof by groenteolies te voeg tydens ’n proses wat as hidrogenering bekendstaan. Dit laat die olie, wat by kamertemperatuur vloeibaar is, solied word. Dit verander dus in versadigde vet.

Voorbeelde van kosse met hierdie skadelike vette is:

  • Industriële gebak, soos koekies, oliebolle, croissants en koeke
  • Harde margarien
  • Gebraaide kitskos

GAAN TOT AKSIE OOR: Lees kosetikette en vermy produkte met transvette of gehidrogeneerde vette.

Ons rook

Rokers se kans om aan ’n hartaanval te sterf is tot vier keer hoër as dié van nierokers. Rook dra tot hartsiektes by, want:

  • Dit verhoog bloeddruk.
  • Die kankerwekkende komponente in tabak beskadig die slagaarwande.
  • Die koolstofmonoksied weens die verbranding van die tabak belemmer die bloed se vermoë om suurstof te dra.
  • Rook laat die vate vernou wat bloed na die bene en arms vervoer.

GAAN TOT AKSIE OOR: Daar is geen maklike oplossing nie – jy moet eenvoudig ophou rook. Kry professionele hulp as dit nodig is.

Ons drink te veel alkohol

Tussen 5 en 7 persent van gevalle van hoë bloeddruk is aan ’n hoë alkoholinname te wyte, en die Wêreldgesondheidsorganisasie raam dat byna 50 persent van hartaanvalle deur hoë bloeddruk veroorsaak word.

GAAN TOT AKSIE OOR: Beperk jou inname van alkohol tot twee klein glase wyn per dag as jy ’n man is en een klein glas per dag as jy ’n vrou is.

Bron: Health24.com