GEVALLESTUDIE

Die senuwees knaag maar by baie van ons aan die begin van die skooljaar, maar vir sommige is daardie vlinders-in-die-maag-gevoel altyd daar. Dit was die geval vir die 14-jarige John*, wie se angsvlakke die hoogte in geskiet het toe sy ouers besluit om te skei.

“Ek het die heeltyd senuweeagtig geword en die bekommernis het gemaak dat ek nie kon slaap nie, ek het gesukkel om te konsentreer en die onbenulligste goed het my laat kop verloor,” sê hy.

“Dit het gereeld gebeur en dan het die mense naaste aan my deurgeloop. Ek het myself verloor. Dit het gevoel asof ek op die randjie van ’n krans leef en gedurig bang was ek val.”

Ongelukkig is daar baie van ons wat daagliks met dié verlammende gevoelens sukkel. Ons het met die sielkundiges Gemma Cribb en Nicole Hyatt gepraat om lig te werp op ’n probleem wat dikwels opgekrop word, oor hoe om angstigheid te herken en maniere om dit in toom te hou.

DIE LIGGAAM SE REAKSIE

As Natasha* (16) by die skool gespanne geraak het, het sy ’n skerp pyn aan die linkerkant van haar bors gevoel. “Ek het probeer om dit net te ignoreer, maar dit het eendag erger geword,” sê sy.

Natasha was bang – haar hart het vinnig geklop en haar asemhaling was vlak. “Ek het gedink ek kry ’n hartaanval en onthou ek het my polsslag gevoel. Ek kon net nie myself kalmeer nie.”

Volgens Gemma is dit die “veg of vlug” reaksie. “Angs is die liggaam se reaksie op gevaar,” sê sy. “As die brein iets as gevaarlik interpreteer, word adrenalien vrygestel en ons liggaam verander sodat ons beter kan baklei teen daardie gevaar of weg kan hardloop.

“Die veranderinge kan insluit ’n vinnige hartklop en asemhaling, sweet, duiseligheid, spierspanning, bewerasie, naarheid, gevoelloosheid of prikkeling, koue of warm gloede of ’n knop in die keel.”

WAT VEROORSAAK DIT?

“Tieners is dikwels onder druk wat angs kan veroorsaak of vererger. Algemene oorsake sluit in om hul te bekommer oor hul voorkoms, sosiale aanvaarding, uitgaan met ouens/meisies, akademiese prestasie, familiekwessies of die toekoms,” sê Gemma.

Nicole verwys na onlangse navorsing wat sê as jou ma angstig was tydens haar swangerskap met jou kan dit oorgedra word. “Kortisol, ’n hormoon wat tydens swangerskap vervaardig word, kan deur die plasenta na die baba oorgedra word en die baba loop dan ’n groter risiko om ’n angstoestand te ontwikkel.”

SOORTE ANGSTIGHEID

Daar is baie soorte angsversteurings. Hier is ’n paar van die algemeenstes

Algemene angsversteuring

Oormatige bekommernis oor daaglikse dinge soos skool of vriende oor ’n lang tydperk.

Sosiale angs

’n Intense vrees vir kritiek of om in sosiale situasies verneder te word. “Om in die openbaar te eet of oor koeitjies en kalfies te gesels kan skrikwekkend wees [vir sommige mense] omdat hulle bekommerd is oor wat ander van hulle dink,” sê Nicole.

Fobie

’n Oorweldigende vrees vir ’n spesifieke voorwerp of situasie, soos diere, hoogtes of klein ruimtes. Die vrees is dikwels heelwat groter as die ware gevaar wat die ding inhou.

Obsessief-kompulsiewe versteuring

Mense met OKV het voortdurend angstige gedagtes wat dikwels tot herhalende gedrag lei. “Iemand wat ’n obsessie het met vuil hande sal dit herhaaldelik was om die angs te verlig,” sê Nicole.

Post-traumatiese stresversteuring

Dis wanneer iemand baie angstig is en dikwels ontstellende terugflitse kry nadat hulle iets traumaties beleef het.

Paniekversteuring

Dis wanneer ’n paniekaanval tot die vrees vir nog ’n aanval lei en ’n bose kringloop van angs veroorsaak.

ALGEMENE SIMPTOME

  • Bekommerd en bang – jy voel gedurig asof iets slegs gaan gebeur
  • Sukkel om asem te haal, soos kortasemheid
  • Voel lighoofdig en/of naar
  • Bewe
  • Borspyne of ’n stywe gevoel in die bors
  • Slaaploosheid en moegheid
  • Spontane gesweet
  • Vinnige hartklop

IS EK ANGSTIG OF NET GESTRES?

Dis belangrik om nie ’n angsversteuring met gespannenheid te verwar nie. “Angstige gevoelens is ’n natuurlike reaksie op ’n spannende situasie, soos as jy baie take het of voor mense moet praat,” sê Nicole.

As jy dus senuweeagtig is tydens die eksamen, maar weer komkommerkoel is as die skoolvakansie aanbreek, is jy dalk net gestres. “Maar vir sommige mense steek die angstigheid sonder enige ware rede kop uit en dit hou aan as die stresvolle situasie verby is."

As dit bekend klink, moet jy hulp kry.

KALMEER

Gemma en Nicole deel hul kalmbly-wenke

HAAL ASEM Mense met angsversteurings haal dikwels nie behoorlik asem nie. Leer jouself om diep asemteue in en uit te neem sodat jy dieselfde hoeveelheid koolfstofdioksied as suurstof uitasem.

OEFEN Gereelde oefening sal help om van spanning ontslae te raak. Probeer dans, swem of gaan hardloop saam met ’n vriendin in die parkie.

SLAAP Te min slaap kan jou oor klein dingetjies laat kop verloor.

BEDERF JOUSELF Maak seker jy maak tyd vir pret en die stresvolle dinge in die lewe. Hang uit saam met vriende, bederf jouself met ’n lekker bad of gaan doen inkopies.

BUIG EN STREK Meditasie, joga en Pilates is goeie maniere om die liggaam en gees te laat ontspan.

SKRYF DIT NEER Nicole stel voor jy skryf die dinge waaroor jy jou bekommer neer en fokus op elke punt. Vra jouself: “Wat is die kanse dat dit eintlik kan gebeur?”

Jy sal dalk besef jy het dinge erger gemaak as wat dit werklik is.

HELP ’N VRIEND

As jy opmerk ’n pêl raak stuurs oor dinge waaroor sy nie normaalweg twee keer sou dink nie, vra haar oor haar vrese, sê Nicole. “Moedig haar aan om objektief te dink. Sê iets soos: ‘Wat is die kanse dat dit gebeur’?”

Gemma stem saam om te luister is die beste manier om jou vriend te ondersteun. “Om saam uit te hang wys jy gee om en verstaan en kan haar help om van haar bekommernisse te vergeet. Moedig haar aan om na haar huisdokter te gaan as die simptome voortduur.”

KONTAK KENNERS

Hier is ’n paar nuttige kontakte as angstige gevoelens te veel raak.

  • Bel Childline by 0800 55 555
  • Besoek die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep by www.sadag.org of bel hulle by 0800 567 567.