Wetenskaplikes aan die Emory Mediese Universiteit in Atlanta, Georgia, het bevind dat die stuur van plakkers deur die pos mense dalk in die toekoms teen siektes kan beskerm, pleks dat hulle na die dokter se spreekkamer gaan vir ’n inspuiting.

Die deskundiges beweer die plakker werk net so goed soos die inspuiting en mense verkies hierdie nie-indringende metode.

Om die produk te toets, is 100 volwassenes, tussen 18 en 49, wat vroeër verkies het om nie die griep-inspuiting te kry nie, lukraak in vier kategorieë ingedeel, waarvan een die tradisionele inspuiting in die arm gekry het.

Deelnemers in die ander groepe het ’n plakker op hul pols geplak en dit 20 minute daar gelaat sodat die “mikronaalde” die boonste laag van hul vel kon deurdring en geabsorbeer word, terwyl een groep ’n plasebo ontvang het. 

’n Knipstelsel, wat aangedui het wanneer genoeg druk toegepas is, het aangedui dat die plakker behoorlik aangewend is.

Ná ’n beoordelingstydperk van 180 dae is teenliggaampievlakke en ongunstige elemente gemeet. Die resultate – wat in die mediese tydskrif The Lancet gepubliseer is – het geen nadelige newe-effekte getoon nie. Ook was die kleiner, geringer reaksies dieselfde in die geval van die inspuiting as die plakker.

’n Meer indrukwekkende feit is dat die plakker net soveel teenliggaampies verskaf het as die inspuiting. Altesaam 96 persent van die persone wat dit gebruik het, het opgemerk dit was ’n pynlose tegniek, terwyl 70 persent verklaar het hulle verkies hierdie benadering bo ’n naald.

“Ten spyte van die aanbeveling dat volwassenes, sowel as kinders, die griep-inspuiting kry, word baie mense nie ingespuit nie. Die deelnemers kan met veiligheid die plakker self aanwend en dit beteken ons kan vaksinering tuis, by die werk of selfs deur die pos in die vooruitsig stel,” het die studieleier, dr. Nadine Rouphael, oor die uitvindsel gesê.

“Hierdie voordele kan die prys van die griep-inspuiting verlaag en moontlik beskerming verhoog. Groter proefnemings moet net eers gedoen word om die bevindings te staaf.”