Ons verloor dikwels sentimeters, maar baie van ons beskou dit nou nie eintlik as voldoende nie. Hoekom neem die sentimeters dan af, pleks van die gewig?

Een teorie is dat ons liggaam ’n voorkeurgewig het waarby dit die beste werk. Dit kan beteken dat, pleks van nog kilogramme afskud, dit komponente van massa aanpas om by 'n sekere “vasgestelde punt ” te bly, en dit is dan wanneer jy ’n verandering in sentimeters, pleks van kilogramme, bemerk.

Net so sal jou spiere begin groei en kan jy in werklikheid gewig aansit wanneer jy met kragoefeninge begin. Jy sal dalk vet verloor, en hoewel daar geen verandering in jou gewig merkbaar is nie, sal die verhouding tussen jou liggaam en jou vet verbeter en jy behoort geleidelik ’n verandering in jou voorkoms op te merk.

Verander jou ingesteldheid sodat jy kan ophou stres oor jou gewig. Moet jou nie blind staar teen gewigsverlies nie; dink liewer aan maniere om skraler te word.

Dit klink dalk nie opwindend nie, maar skraler word beteken nie altyd om gewig af te skud nie; dus kan ’n verandering van terminologie jou werklik help om gemotiveer te bly terwyl jy aanhou oefen en gesond eet.

Jy loop tog nie rond met ’n neonlig bokant jou kop wat jou gewig uitflits nie, maar wanneer jy ’n paar sentimeters op sekere dele van jou liggaam afskud, is dit iets tasbaars wat mense regtig kan sien.

Onthou, die gewig wat jou skaal aandui, is nie net vet nie, maar dit sluit dié van jou bene en organe, sowel as die water in jou liggaam in. Die skaal sê ook nie vir jou hoeveel van daardie gewig spiere is en hoeveel vet is nie.

Dit maak die samestelling van jou liggaam van die uiterste belang, aangesien jy werklik kan verstaan wat aangaan en dan kan jy bepaal aan watter dele daar nog gewerk moet word.

Hoewel jy nou ook nie heeltemal van die skaal ontslae moet raak nie, moet jy dit, tesame met ’n maatband, inspan om jou sentimeters aan te teken.

Die stel van prestasieteikens is nog ’n manier om jou vooruitgang ten opsigte van jou gesondheid en fiksheid te erken. Stel ’n doelwit van ’n sekere getal herhalings of om binne ’n vasgestelde tydperk ’n sekere afstand te draf, hardloop of stap.

As jy jou fokus so kan verskuif, sal jy in werklikheid die stres uit die situasie verwyder en dan sal jy in staat wees om jou prestasies meer te waardeer.

© Cover Media